Die gesin van ’n 20-jarige man van Springbok wat in Oktober op ’n plaas in Amerika dood is, kon hom Saterdag (19/11) uiteindelik in die Noord-Kaap begrawe.

“My seun is begrawe op die plaas Naauwkloof buite Springbok,” sê Eugene Lennox, pa van Nicolas Eugene, oftewel Nantes, soos sy gesin, familie en vriende hom genoem het.

Nantes is op 13 Oktober op ’n plaas naby Jackson in Mississippi dood nadat hy in ’n silo met sojabone geval en versmoor het.

Hy het in 2020 aan die Hoërskool Namakwaland matrikuleer.

Nantes het in 2021 vir die eerste keer op ’n hopsplaas in Amerika gaan werk. Hy het in Maart vanjaar weer na Amerika teruggekeer om algemene plaaswerk te verrig.

Daar was ’n oponthoud met ’n dokument wat uitgereik moes word om te bevestig dat Nantes nie aan ’n siekte dood is nie, maar weens ’n ongeluk voordat sy lyk na Suid-Afrika gebring kon word.

Lennox sê Nantes het glo sonder sy harnas by die silo gewerk omdat dit glo in sy pad was.

“Ek het ’n boodskap aan die sheriff in Jackson gestuur waarin ek hom vra om alles in sy vermoë te doen om so ’n tragedie in die toekoms te voorkom.”

Lennox en sy vrou, Jolene, het nog ’n seun, Johannes (25).

Werner Beukes

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article