Man skuldig aan moord; forensiese lede verwys vir tugstappe weens ‘swak werk’

murder neon text op window with bars
Ter illustrasie. FOTO: pexels.com

‘n Man wat skuldig bevind is aan die moord op sy lewensmaat is gevangenisstraf van 20 jaar opgelê, terwyl die regter in sy uitspraak aanbeveel het dat tugstappe teen polisielede gedoen word vir forensiese ondersoekwerk wat hy as “middelmatig, swak en ondoeltreffend” beskryf het.

Butiki Simon Maboitshege (40) is verlede week skuldig bevind aan die moord op sy lewensmaat, Marly Nero, in Februarie 2024 in Ikhutseng, Warrenton, in die Noord-Kaap.

Hy is op Maandag 8 September in die hooggereghof in Kimberley gevonnis. Waarnemende regter Stephen Groenewaldt het in sy uitspraak gesê die moord is in die hitte van die oomblik, waarin emosies geseëvier het en te midde van alkoholmisbruik, gepleeg. Maboitshege se veroordeling en vonnisoplegging kom ondanks verlore DNS-bewyse in die polisie se laboratorium.

Regter Groenewaldt het toe ook aanbeveel dat moontlike tugstappe teen polisielede gedoen word vir forensiese ondersoekwerk wat hy as “middelmatig, swak en ondoeltreffend” beskryf het.

Maboitshege se verhoor het in Augustus plaasgevind: Augustus is Vrouemaand waarin geweld teenoor vroue en kinders belig word. Die aantal gruwelike voorvalle waarin vroue vermoor en aangerand word, is onaanvaarbaar, het die regter bevind.

Butiki Simon Maboitshege op Maandag 8 September in die hofsaal. Foto: Charné Kemp Credit: Charne Kemp

Aanklag van regsverydeling laat vaar weens verlore bewysstukke

Die voorval het by Maboitshege se huis plaasgevind. Hy en Nero het op 26 Februarie 2024 by ‘n taverne rusie gemaak. Bure het daardie nag gehoor hoe die oorledene om hulp skreeu. Haar naakte lyk is die volgende oggend op haar bed gevind en haar beserings het aangedui sy is met stomp voorwerpe aangerand. Maboitshege het glo aangevoer iemand anders het haar vermoor, maar het sy klere verbrand wat hy die betrokke aand aangehad het.

Die oorledene het etlike ernstige beserings gehad. Die patoloog se getuienis toon dat die oorledene etlike kneusplekke aan haar lyf en kop gehad het, asook tien gebreekte ribbes wat haar long laat platval het.

Adv. Elmari Krüger, aanklaer, het vroeër die aanklag van regsverydeling teen Maboitshege laat vaar weens die verlore bewysstukke en DNS-uitslae wat nie vorendag gekom het nie.

As dwingende en wesenlike omstandighede wat die regter in ag kan neem om van ‘n lewenslange vonnis af te wyk, is bevind dat Maboitshege rehabiliteerbaar is en reeds 19 maande in aanhouding is. Hy het geen vorige veroordelings nie. Hy het net graad 6 behaal en is een van sewe sibbe. Sy pa was ‘n tuinier en sy ma werkloos. As ‘n bouer het hy R6 000 verdien.

As strafverswaring is aangevoer dat die oorledene se kinders deur familielede grootgemaak word, en hul ma geweldig mis. Hul ouerlike sorg is van hulle weggeruk.

Omdat haar lyk in ‘n polisievoertuig weggeneem is, dink haar een kind gedurig sy is in ‘n polisievoertuig as hy een sien verbyry. Maboitshege het nooit aan die familie of die kinders verskoning gevra nie.

Regter Groenewaldt het voorts ‘n bevel uitgereik dat indien Maboitshege aansoek om parool doen, moet die oorledene se familie ingelig word en kans gegun word om aan die proses deel te neem.

‘Klassieke voorbeeld van ondoeltreffende polisie-ondersoek’

In sy uitspraak het hy ook gelas dat die griffier ‘n afskrif van die uitspraak aan die hoof van die forensiese wetenskaplaboratorium in Pretoria verskaf vir die oorweging van moontlike dissiplinêre stappe teen ao. Emmanuel Phiwamandla Gwala, of enige ander amptenaar wat verantwoordelik is vir die versuim om die bewysstukke in ‘n verseëlde bewysstuksak veilig te bewaar. Gwala het in sy getuienis verklaar hy het nie die bewysstuksak se seël wat ‘n T-hemp bevat, oopgemaak nie, maar dit weerspreek sy verklaring. Gwala het bevestig dat hy nie weet wat met die bewysstuksak en die T-hemp gebeur het nie, al was dit onder sy beheer. Hy het na die vermiste bewysstuk as ‘n “klein foutjie” verwys.

Die griffier moet ook ‘n afskrif van die uitspraak aan die hoof van die plaaslike misdaadsentrum in Hartswater verskaf vir oorweging van moontlike dissiplinêre stappe teen sers. Modisaotsile Piet Tshabadira, of enige ander amptenaar wat verantwoordelik is vir die versuim om monsters van ‘n bloedbevlekte klip te neem en dit vir DNS-analise te stuur.  Dit blyk hy het foto’s van die toneel geneem, insluitend van ‘n bebloede klip, maar dit nooit laat ontleed nie.

“Dié saak is ‘n klassieke voorbeeld van ‘n middelmatige, swak en ondoeltreffende polisie-ondersoek deur ‘n oënskynlik ervare polisiebeampte. Dit verstom my dat geen monsters van die belangrike bewysstuk vir ontleding geneem is nie,” het regter Groenewaldt gesê en bevind “die misdaadtoneel is op ‘n betreurenswaardige noot gesluit.”

 Heinrich Steynberg het vir Maboitshege opgetree.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article