’n Man van Bloemhof wat daarvan aangekla word dat hy sy vriend met ’n mes doodgesteek het, moet weer in Februarie in die hof verskyn.

Johnny Potgieter (27) het op Vrydag 26 Januarie in die landdroshof hier verskyn nadat Manie van Tonder (47) op Maandag 22 Januarie in die vroeë oggendure doodgesteek is.

Luidens ’n polisieverklaring was Van Tonder se naam Jamie, maar hy het as Manie onder inwoners bekend gestaan.

Potgieter se ma, Nicolette Schoeman, sê sy is in die duister oor wat gebeur het.

“Johnny is nie ’n moedswillige mens nie; iets moes gebeur het,” sê sy.

’n Buurtwaglid van Bloemhof het op voorwaarde van anonimiteit gesê Potgieter en Van Tonder het die aand saam gekuier. Hulle was na verneem word vriende.

“Ons verstaan die drank het gevloei en ’n onderonsie het tussen die twee ontstaan,” sê die lid.

Dit is onduidelik wat tydens die rusie gebeur het.

Potgieter is glo ná die voorval na sy ouerhuis en het hulle vertel wat gebeur het. Sy ouers is na sy huis, waar hulle Van Tonder se lyk met ’n steekwond in ’n agterkamer aangetref het. Sy lyk was gedeeltelik verbrand. Die polisie is ontbied en het Potgieter in hegtenis geneem.

Hulle het op ’n mes en bloed­bevlekte klere beslag gelê. Volgens die polisie is stukkies hout langs Van Tonder gekry wat daarop dui dat sy lyk aan die brand gesteek is.

Volgens die buurtwaglid was Potgieter “ ’n goeie en saggeaarde outjie”.

Lourens Pretorius, vir wie Van Tonder los werkies gedoen het, sê hy het baie vir ander gedoen. Volgens brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, verskyn Potgieter weer op 5 Februarie in die hof wanneer hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Susan Cilliers, Anja van der Merwe

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article