Tewie Viljoen (55) van Kimberley, wat in Oktober 2019 weens die onwettige besit van en handel in renosterhoring in hegtenis geneem is, is op 7 Maart in die landdroshof ’n opgeskorte vonnis van vyf jaar tronkstraf opgelê.
Volgens kapt. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder, is Viljoen se vonnis vir vyf jaar opgeskort mits hy in dié tyd nie weer aan ’n soortgelyke oortreding skuldig bevind word nie.
Hy is verder ’n boete van R100 000 opgelê wat die hof gelas het hy aan die nie-regeringsorganisasie Stop Rhino Poaching moet betaal.
Viljoen is op 11 Oktober 2019 by ’n casino in Kimberley in hegtenis geneem.
Twee renosterhorings en vyf kleiner stukke horing ter waarde van R1,9 miljoen is by hom gekry.