Albé Grobbelaar van Luckhoff is in die Bloemfontein Mediclinic aan malaria oorlede. FOTO: Facebook

BLOEMFONTEIN. ‘n Ondersoek van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) word nou gedoen nadat ‘n bekende boer van Luckhoff Albé Grobbelaar (53) aan malaria dood is.

Grobbelaar se vrou, Sorina (50), en hul seun Louis (23), het ook malaria. Sy ontvang nog behandeling in die intensiewesorgeenheid van die Mediclinic Bloemfontein en Louis, wat ook daar behandel word, herstel goed.

Grobbelaar, ‘n voormalige Vrystaatse Jongboer van die Jaar, is Woensdag in dié hosptiaal oorlede.

In antwoord op ‘n navraag van BloemNuus sê dr. Charlotte Sriruttan-Nel, senior patololoog van die sentrum vir ontluikende dierkundige en parasitiese siektes, gesê dat ondersoek nou gedoen word om te bepaal wat die oorsaak van die infeksie was omdat die Vrystaat nie ‘n malaria-area is nie.

Die Vrystaatse departement van gesondheid het bevestig dat die drie voorvalle van dieselfde huis in Luckhoff, malaria is. Die distrik is nie ‘n endemiese malaria-gebied nie en die drie het nie na ‘n malaria-gebied gereis nie.

Sriruttan-Nel sê dit wil voorkom of die drie malaria-gevalle in die Vrystaat ‘n geïsoleerde geval is en daar is geen aanduiding dat dit ‘n groter risiko vir die publiek inhou nie.

Sy sê ‘n belangrike oorweging in sulke gevalle is odysseïese malaria – ook bekend as lughawe-, tas- of taximalaria. “Dit vind plaas wanneer besmette muskiete per ongeluk via lug-, see-, pad- of spoorreise na nie-endemiese gebiede vervoer word, wat lei tot plaaslike oordrag by individue sonder onlangse reisgeskiedenis. Hoewel dit ongewoon is, is odysseïese malaria by verskeie geleenthede in Suid-Afrika gedokumenteer.

Sy sê sulke gebeure is raar en sporadies en dui nie daarop dat malaria in die Vrystaat gevestig is nie.
“Dit is belangrik dat daar wel ‘n verhoogde kliniese bewustheid is. Die belangrikste voorsorgmaatreël is om gesondheidsorgwerkers in nie-endemiese provinsies te herinner om waaksaam te bly vir malaria.

“Enige pasiënt met onverklaarbare koorssiekte, veral as daar kliniese agteruitgang en / of trombositopenie (lae bloedplaatjietelling) is, moet klinici vra om malaria te oorweeg en te toets, selfs in die afwesigheid van ‘n reisgeskiedenis.”

Malaria-endemiese gebiede in Suid-Afrika is beperk tot die noordoostelike lae-hoogte distrikte van Limpopo, Mpumalanga en die verre noorde van KwaZulu-Natal (insluitend Die Nasionale Krugerwildtuin en aangrensende gebiede). Malaria-oordrag is seisoenaal: gewoonlik Oktober tot Mei, met ‘n hoogtepunt van Januarie tot Februarie.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse departement van gesondheid, sê die risiko vir die algemene publiek word beskou as laag. “Verdere inliging sal verskaf word soos dit beskikbaar word,” sê Mvambi.

Hy sê lede van die publiek wat koors, kouekoors, hoofpyn, liggaamspyn, naarheid of ongewone moegheid ervaar, moet dadelik mediese sorg soek.

“Inwoners word aangemoedig om muskietbyte te verminder deur toepaslike afweermiddels te gebruik, langmoue en broeke van skemer tot dagbreek te dra en staande water rondom huise te verwyder. Die departement vra gemeenskappe om saam te werk met gesondheidspanne wat in die gebied werk,” sê Mvambi.

Daar is in die 2024/25 malaria-seisoen volgens die NCID 3 913 gevalle van malaria in Suid-Afrika waarvan 31 sterftes aangemeld is.

Kry kliniese raad by die NCID se kontaknommer 0800 212 552.

You need to be Logged In to leave a comment.