Gevalle van malaria neem toe in Suid-Afrika en pasiënte loop die gevaar dat dit nie by hulle gediagnoseer word nie omdat die simptome aan Covid-19 toegeskryf word.
Só lui ’n waarskuwing wat die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) verlede week uitgereik het.
Malaria kom veral in dele van Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal voor, en mense wat onlangs soontoe gereis het, moet hiervan bewus wees.
Dr. Jaishree Raman, mediese hoofwetenskaplike by die Sentrum vir Opkomende Soönotiese en Parasitiese Siektes by Nios, sê ondersoeke na die sterftes en die aantal ernstige malariagevalle toon dat dit laat gediagnoseer of gemis word. Dit word veroorsaak deurdat Covid-19 en malaria soortgelyke simptome het.
Malaria se simptome sluit koors, hoofpyn en lyfseer in. Pasiënte is gewoonlik naar en het maagpyn.
Dit is uiters gevaarlik om malaria onbehandeld te laat, waarsku dr. Fritz van den Heever van Tzaneen, wie gereeld met malariapasiënte te doen kry.
“Hoe langer jy vat om dit te diagnoseer, hoe sieker word jy. Die uiteinde is serebrale malaria. Dit is die ding wat mense doodmaak. Dit kan ook jou lewer en niere aantas.”