Maalvleis-en-sampioenpastei
Maak 8 pasteie
Bestanddele:
Kors:
4 x 250 g velle skilferkorsdeeg
Vulsel:
500 g beesmaalvleis
500 g gemengde knopiesampioene, gehalveer
1 ui, gekap
2 stingels seldery, in ringe gesny
2 knoffelhuisies, fyn gekap
1 e. roosmaryntakkies, grof gekap
1 t. gemengde droë kruie
70 g tamatiepasta
2 e. Worcestershiresous
375 ml beesaftreksel
1 groot eier, liggies geklits
1 t. gedroogde kruie
1 x 12-koppie muffinpan
Metode:
Vir die kors:
Sprinkel meel liggies op ’n werksoppervlak. Rol 2 velle van die skilferkorsdeeg redelik dun uit. Sny 12 sirkels uit – groot genoeg om in die basisse van die muffinpan te pas, met ’n bietjie ekstra om vas te heg aan die deksels.
Rol die ander twee velle ’n bietjie dikker uit. Sny 12 kleiner sirkels uit wat die deksels sal vorm.
Voer elke koppie van die muffinpan met die groter deegsirkels uit. Sit die 12 deksels op ’n uitgevoerde bakplaat en sit al die deeg in die yskas.
Vir die vulsel:
Verhit ’n bietjie olyfolie in ’n groot braaipan. Braai die maalvleis tot goudbruin en plaas eenkant.
Sit vars olyfolie in dieselfde pan en soteer die sampioene tot goudbruin en al die vloeistof verdamp het. Geur liggies en sit eenkant by die maalvleis.
Sit vars olyfolie in die pan en soteer die ui en seldery tot sag.
Voeg die knoffel, roosmaryn en gedroogde kruie by. Prut vir een minuut. Voeg die tamatiepasta by en prut tot dit ’n donker, baksteenrooi kleur bereik. Gooi die Worcestershiresous en die beesaftreksel by. Voeg die maalvleis en sampioene by. Laat dit prut en gaar word tot al die geure saamgesmelt het. Proe om geurmiddels aan te pas. Verwyder van die hitte en laat die vulsel afkoel.
Om pasteie aanmekaar te sit:
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Maak die pasteibasisse met die sampioenmengsel vol.
Vryf die randte met ’n bietjie water om die deksels te laat plak. Plaas die deksels op. Knyp die randte van die deeg vas om die pastei te seël. Knyp dit egalig reg rondom om ’n oulike patroon om elke pastei te vorm.
Sny ’n klein stoomgaatjie bo-op elke pastei uit. Verf dit met eier en sprinkel met gedroogde kruie. Bak vir 25–30 minute tot goudbruin en tot die deeg deurgaar is. Laat die pasteie rus vir 10 minute voordat dit uit die pan gehaal word.
Resep: The South African Mushroom Farmers’ Association


