Leandra Rautenbach (regs) het op Zelda Lombaard (leefstylsaamroeper) demonstreer hoe om eenvoudige daggrimering te doen deur ‘n oogskadu-palet vir verskeie dele van die gesig te gebruik.

Foto: Hettie du Plessis-Krüger

Vroue hoef nie vir ’n spesiale geleentheid te wag om mooi te lyk nie, en dit is maklik om elke dag jou beste te lyk.

So het Leandra Rautenbach aan lede van die VLV Kuruman-tak tydens ’n takbyeenkoms op 19 April by Boa-fé in Kuruman vertel.

Nadat Janet West die verrigtinge geopen het, het Rautenbach gesê baie vroue wil vir ’n spesifieke geleentheid mooi lyk, en sê byvoorbeeld: “As ek net eers 10 kg gewig verloor, sal ek my hare só gaan sny . . .” Rautenbach sê dit is nie nodig om te wag nie.

Oor haarstyle het Rautenbach die volgende wenke gegee:

Enige haarstyl wat volume rondom die gesig gee, byvoorbeeld ‘n “bob”, laat ’n mens se gesig breër lyk.

As ’n mens skraler wil lyk, kan jy óf jou hare heelwat korter sny, sodat die hare hoogte bo jou kop gee wat die gesig langer en skraler laat vertoon; andersins moet die hare verby sleutelbeenlengte gegroei word.

Ook grimering kan ’n mens se gesig voller of skraler laat lyk. Hoe korter wenkbroue is, hoe ronder vertoon die gesig. Langer wenkbroue laat die gesig skraler vertoon.

Maar as wenkbroue tot by die ore begin strek, moet jy stadig met die tegniek, het Rautenbach in ’n ligte trant opgemerk.

’n Onderlaag kan baie verbloem, maar moet nooit dink jy gaan daarmee wegkom om geen velsorgprodukte te gebruik nie. Die kleur van jou onderlaag moet 100% by die kleur van jou nek pas. ’n Geheim van ’n goeie onderlaag is dat niemand moet agterkom jy gebruik onderlaag nie.

‘n Opregte glimlag het baie meer waarde as die duurste lipstiffie, sê sy, maar as jy jou glimlag wil versier, kies die regte kleur lipstiffie.

Hoe donkerder die lipstiffie, hoe dunner vertoon die lippe – iets waarna ’n mens moet oplet, veral as ’n mens ouer raak. ‘n Donker lipstiffie is ook geneig om in liplyntjies om die mond in te vloei.

Gebruik bloedrooi lipstiffie om tande witter te laat vertoon.

Rautenbach het op Zelda Lombaard, die leefstylsaamroeper, demonstreer hoe om eenvoudige daggrimering te doen deur ‘n oogskadu-palet vir verskeie dele van die gesig te gebruik.

Die byeenkoms is met Paasfees-lekkernye soos paaseiers en paasbolletjies afgesluit aangesien dit die takbyeenkoms naaste aan Paasfees was.

  • Petro Spangenberg, die kunste-en-handvlytsaamroeper, het tydens die geleentheid een van haar gedigte voorgelees, getiteld “My Taal”:

My taal is ‘n ram

Afrikaans is sy naam

Ramkat rampokker

Draadspringer bokker

Rammetjie uitnek, rammetjie rof

Soms ook gruwelik onbeskof.

My taal is ‘n ooi

Sy lê sag en rond

in allemans mond

Sy gee telkens geboorte

Bly stil in haar pyn

maar blaker dit uit

as die eerste son skyn.

My taal sy’s ‘n lam

wat wankel en hunker

Dan opstaan en voortbeur

kopstamp en bokspring

Instink neem oor en

my taal word groot.

So loop ons die pad

Afrikaans in die hart.

Lede van die leefstylgroep wat die vergadering aangebied het, is van links Zelda Lombaard (saamroeper), Arina Beukes (vise-voorsitter VLV Kuruman-tak), Sona Uys, Janet Strydom en Janet West (wat die byeenkoms geopen het).

Petro Spangenberg lees ‘n gedig, wat sy geskryf het, voor.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article