Pa Dawid de Greeff beoefen boogskiet as sport saam met sy kinders, Elrize (11) en Simeon (8).

Foto: Verskaf

Daaglikse gebeure en invloede hou gesinslede van mekaar weg. Hiermee bly kommunikasie en samesyn dikwels agterweë.

“Wanneer ’n gesin saam aan ’n sportsoort deelneem, word gesinsbande gebou,” sê Dawid de Greeff, administratiewe beampte van Africa Genesis Archery Northern Cape (AGA-NC). Dié nie-winsgewende organisasie beywer hom sedert Oktober verlede jaar vir die bevordering van boogskiet by veral skole in die Noord-Kaap. Hy en sy gesinslede beoefen almal saam boogskiet. 

“Wanneer kinders ‘n sportsoort beoefen, moet ouers of voogde in elk geval die kinders heen en weer vervoer,” sê De Greeff. So ’n uitstappie hou daarom veel meer waarde in wanneer ouers ook betrokke is en daaraan deelneem.

“Boonop hou ons as gesin daarvan om saam te reis en nuwe plekke te besoek.” 

Volgens De Greeff het heelwat gesinne in Kimberley by boogskiet betrokke geraak. 

“Wanneer hulle sien hoe die kinders dit geniet, en hulle die geleentheid kry om self ’n pyl of twee te skiet, raak hulle gou gaande daaroor. Boogskiet is werklik ’n ideale gesinsport.” 

‘n Verdere manier om by dié sportsoort betrokke te wees, is as beampte by boogskietbyeenkomste. Komende naweek ontvang agt ouers juis opleiding as basiese boogskiet-instrukteurs (BAI).

’n Verdere voordeel van boogskiet is dat dit binne én buite beoefen kan word. Daarom speel weersomstandighede nie ’n rol nie.

Belangstellendes kan De Greeff by 073-030-2909 of Schalk van der Merwe by 082-762-9838 bel om meer oor die sportsoort uit te vind, of ’n e-pos kan na nc@agarchery.co.za gestuur word.

Vaardighede saam-saam aangeleer

Wanneer ouers of voogde self deelneem aan ’n sportsoort wat die kinders ook beoefen, bring dit ’n gevoel van samehorigheid en leer gesinslede mekaar op ’n ander vlak ken. Wanneer ’n gesin saam aan fisieke aktiwiteite deelneem, kweek dit onder meer spanwerk en kommunikasie tussen gesinslede, aldus OSR Physical Therapy se webwerf. 

Spanwerk en kommunikasie is twee belangrike vaardighede wat kinders moet aanleer; vaardighede wat hulle in hul volwasse lewe van voordeel sal wees. 

Gesinsdeelname aan ’n sportsoort is anders as saam televisie kyk. Tydens die beoefening van ’n sport vind veel meer interaksie plaas. ’n Mens leer ook jou gesinslede beter ken deur te sien hoe hulle in die spel optree.

Gesinsdeelname aan ‘n sportsoort kan ’n ideale geleentheid bied om goeie gedrag aan te moedig en swak gewoontes te verbeter.

Talle volwassenes besef die noodsaaklikheid van oefening, en sluit onder meer by gimnasiums en oefenklubs aan, maar laat na om hierdie goeie gewoonte vir hul kinders aan te leer. 

Wanneer kinders van kleins af aan sport en die beoefening daarvan blootgestel word, word die moontlikheid van vetsug boonop verminder. 

Wanneer hulle sport beoefen, het hulle minder tyd om voor die televisie of ander skerms deur te bring. Dit bring mee dat ’n kind meer skeppend is.

Sportsoort reg gekies

Wanneer op ’n sportsoort besluit word, moet kinders se ouderdom – en enigiets wat veiligheid kan beïnvloed – in ag geneem word. Moet byvoorbeeld nie langs besige roetes stap, draf of fietsry nie, en moet ook nie in ’n vinnig-vloeiende rivier swem nie. 

Sportsoorte soos swem, fietsry, stap, draf, sokker en ander balspeletjies is vir die hele gesin geskik.

Talle gimnasiums bied spesiale oefenpakkette vir kinders aan, maar daar is heelwat aktiwiteite wat ’n gesin saam kan beoefen sonder om lidmaatskapgeld te betaal. 

Op die weeklikse parkrun-byeenkomste, byvoorbeeld, kan jonk en oud gratis 5 km stap of draf. Selfs babas in stootwaentjies word gereeld by die byeenkomste opgemerk. Parkrun-byeenkomste vind onder meer in Christiana, Hartswater, Jacobsdal, Prieska, Kathu, Kimberley en Upington plaas.

boogskiet

Elrize de Greeff (11) geniet boogskiet as sport saam met haar broer, Simeon (8) en pa, Dawid.

You need to be Logged In to leave a comment.