Ma-en-seun-bende ’n wenresep vir boekreeks

Die idee vir ’n lekker bangmaakstorie het ontstaan toe die Kulsen-gesin uitgevind het dat ’n gebou waarin hulle destyds met vakansie gebly het, gedeeltelik op ’n begraafplaas gebou is.


Keenan en Anzil Kulsen. Foto: Verskaf

Keenan en Anzil Kulsen. Foto: Verskaf

Die idee vir ’n lekker bangmaakstorie het ontstaan toe die Kulsen-gesin uitgevind het dat ’n gebou waarin hulle destyds met vakansie gebly het, gedeeltelik op ’n begraafplaas gebou is.

Dit was die inspirasie vir Anzil Kulsen en haar seun, Keenan, ’n gr. 10-leerling aan die Hoërskool Upington (Uppies), se Bitterbosbende-reeks.

Anzil het aanvanklik die eerste boek in die reeks vir negejariges geskryf.

Die geheim van die nuwe hoof is ’n verhaal oor ’n boetie en sussie, Kurt en Nieke, hul maats Zia, Bongi, Leonard en Simone, en natuurlik mevrou Bosman, die nuwe skoolhoof van die Laerskool Bitterbos, wat die kinders op groot avonture en ’n ontdekkingstog neem.

Die geheim van die nuwe hoof.

Die geheim van die nuwe hoof.

In plaas daarvan om hulle te straf toe hul eksperiment verkeerd loop en ’n ontploffing veroorsaak, daag mevrou Bosman hulle liewer uit om iets nog groter aan te pak.

Ná die verhaal aanvaar is, het die uitgewer Tafelberg gevra of dit dalk in ’n reeks kan ontwikkel. Dit was toe juis met die ontwikkeling van idees vir ’n tweede en derde boek in die reeks dat Keenan aangebied het om te help en dadelik begin skryf het aan die tweede boek, Die been in die bos.

Keenan speel ook hokkie vir sy skool en skryf sy eie inspirerende aanhalings onder die skryfnaam K-specialist.

Die been in die bos.

Die been in die bos.

Hy sê dit is vir hom lekker om op sy verbeeldingstog te gaan wanneer hy skryf. Van kleintyd af tik hy verhale op sy ma se rekenaar.

Vir die tweede boek het Keenan met al die belangrike idees vorendag gekom, en sy ma moes sy idees inkleur en toesien dat die storie die regte getal woorde bereik. Soms het hy met sy ma oor idees verskil, maar op die ou einde het dit uitgewerk.

In die tweede boek kamp die Bitterbosbende langs die rivier en raak hulle hopeloos te waaghalsig.

In die derde boek, Die Grafsangers, wat in September verskyn, is hulle weer terug by die Laerskool Bitterbos. Die grafte en mynskag, waarheen hulle eintlik verbied is om te gaan, hou net te veel misterie in. Hulle kan maar net nie daar wegbly nie.

Keenan sê die moontlikheid op meer boeke is nie uitgesluit nie.

Die Grafsangers.

Die Grafsangers.

You need to be Logged In to leave a comment.