Onklaar voertuie en wrakke van ambulanse en pasiëntbusse staan op ’n nywerheidserf in Moghulpark, Kimberley – sommige nog vol noodhulptoerusting.

Foto: Charné Kemp

Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier “toon geen leierskap” want ongeag sy voorneme drie jaar gelede om die gesondheidsdepartement reg te ruk, is daar geen verbetering met swak ouditverslae en dienslewering nie. 

Só sê Harold McGluwa, DA-leier, en dr. Izak Fritz, DA-LW. Daar het ook dadels gekom van Saul se belofte om ‘n bemande lessenaar by die belëerde Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (RMSH) te vestig waar probleme dadelik by sy kantoor aangemeld kan word.

Die party wil die staande portefeuljekomitee in die wetgewer oortuig dat die departement onder administrasie geplaas moet word. Indien dit onsuksesvol is, gaan hulle dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, nader.

“Die premier vervang of ruk geen van sy swak presterende LUR’s in die bek om te verseker ouditverslae verbeter nie. Hy maak net aanhoudende leë beloftes dat hy korrupsie gaan hokslaan. Ons weet nie van enige rekenkundige beampte in Saul se ampstermyn wat dissiplinêr vervolg is weens wanadministrasie nie. Hulle bly in die sisteem en kan steeds invloed uitoefen, geen wonder fluitjieblasers is so bang om na vore te kom nie.”
Harold McGluwa

Hy sê daar is geen daadwerklike optrede teen wanadministrasie en korrupsie nie.

“Dr Dion Theys, vorige waarnemende departementshoof wat in twee afsonderlike korrupsie en of bedrogsake strafregtelik aangekla is, bly net geskors sonder dat interne tugstappe teen hom gedoen word. Intussen kan ‘n permanente departementshoof nie aangestel word nie. Daniel Gaborone, finansiële hoof, is saam met Theys aangekla weens korrupsie van R43 miljoen vir die aankoop van persoonlike beskermingtoerusting.”

Steven Jonkers, voormalige departementshoof en administrateur wat die departement glo moes regruk toe dit onder administrasie was, is verlede jaar van bedrog van R384 miljoen weens ‘n onreëlmatige sekuriteitstender aangekla. Die bewering is dat Defensor vervalste dokumente ingedien het wat hulle ‘n onregverdige voordeel bo die ander bieër gegee het. Die aanvanklike waarde van R224 miljoen het tot meer as R384 miljoen toegeneem.

“Jonkers is die adjunk-direkteur-generaal in die premier se kantoor, ‘n pos met baie mag.”

Volgens Fritz is slegs 75 ambulanse in werkende toestand, terwyl 73 stukkend is. Slegs ses forensiese voertuie uit 31 is padwaardig. Net 23 uit 159 klinieke het ideale-kliniek status. Regseise beloop R1,6 miljard. Weens ‘n tekort aan personeel kan net vier uit nege teaters by die RMSH gebruik word.

Die verskoning vir personeeltekorte, dat niemand in die provinsie wil werk nie, hou nie steek nie. “Dit is eerder te wyte aan rompslomp om mense spoedig aan te stel voordat hulle elders werksgeleenthede aanvaar. Slagoffers van seksuele aanranding kan nie behandel word en forensiese bewyse korrek versamel word nie. Neonatale sterftes neem toe. 50 ventilators wat tydens die Covid-19 pandemie aangekoop is, is in stoorkamers toegesluit weens die tekort aan gespesialiseerde vaardighede.”
Izak Fritz

“Kumulatiewe onreëlmatige uitgawes beloop R8,8 miljard. Tenders word deur middelmanne toegeken en kontrakte word aanhoudend verleng sonder die korrekte prosedures. Groot bestellings word verdeel om mededingende bodprosesse te vermy.

“Die departement kry die afgelope vyf jaar gekwalifiseerde ouditverslae. Luidens die 2020-’21-ouditverslag kan die departementshoof nie eens ‘n oudit-aksieplan saamstel om die departement reg te ruk nie. Hy kon nie eens ‘n eenvoudige Excelstaat vir die ouditeur-generaal gee oor wat die departement se bates behels nie of stappe gedoen om verlammende onreëlmatige uitgawes te ondersoek nie. Die departement het die huidige boekjaar met skuld van R590 miljoen en ‘n oortrokke bankrekening van R100 miljoen begin. Ironies genoeg het die departement met R78 miljoen onder bestee. Die ouditeur-generaal het bedenkinge oor die departement as ‘n lewensvatbare instelling.”

Ná Jonkers se eerste hofverskyning in Oktober 2021 het Bronwyn Thomas-Abrahams, woordvoerder van die premier, gesê dat hulle besig is om die aanklagtes teen Jonkers te bestudeer. Geen besluite is toe oor sy toekoms geneem nie. Hy is steeds die adjunk-direkteur-generaal van die provinsie.

Sy het teen spertyd nog nie kommentaar gelewer nie.

Lebogang Majaha, departementele woordvoerder, sê hulle sal vandeesweek kommentaar lewer oor Theys en Gaborone se werkstatus en oor die jongste ouditverslag uitbrei. Hy erken dat hulle “tandekry-probleme” ervaar.

“Ons is ontsteld oor die DA se negatiewe kommentaar.  Die OG is tevrede met die beduidende verbetering by die departement. Daar is vordering om onreëlmatige uitgawes te beperk en diensverskaffers word binne 30 dae te betaal. Die regs-eise het verminder tot R1,2 miljard. Ons het 80 tot 90 werkende ambulanse en het nog 20 ambulanse en 10 pasiënt busse in die huidige geldjaar aangekoop. Ons gaan nog 54 voertuie koop.”

Onklaar voertuie en wrakke van ambulanse en pasiëntbusse staan op ’n industriële erf in Moghulpark in Kimberley, sommiges nog vol noodhulptoerusting.

medies

Een van die vele stukkende en onbruikbare voertuie van die Noord-Kaapse departement van gesondheid.

You need to be Logged In to leave a comment.