Lushof dalk nog ontgin

Beweerde drank- en dwelmmisbruik, die teenwoordigheid van misdadige elemente, vandalisme en die algemene agteruitgang in die Oppenheimer­tuin in Kimberley kan binnekort iets van die verlede wees.


Beweerde drank- en dwelmmisbruik, die teenwoordigheid van misdadige elemente, vandalisme en die algemene agteruitgang wat in die eens spoggerige Oppenheimer­tuin in Kimberley heers, kan binnekort iets van die verlede wees met die Sol Plaatje-universiteit (SPU) wat dit van die Sol Plaatje-munisipaliteit koop.

In dié tuin, ’n skaduryke ruimte met grasperke, is geleenthede soos die Gariep-kunstefees voorheen aangebied.

Besoekers aan die hooggeregshof, die William Humphreys-kunsgalery (Whag) en die Noord-Kaap-teater moet teen dié tuin parkeer. ’n Prokureur sê die vullis en beweerde drank- en dwelmmisbruik, met ’n gevolglike misdadige atmosfeer, is ’n geweldige bekommernis.

“Ons vergesel baie keer advokate en korrespondente-prokureurs van ander stede na die hooggeregshof. Ons moet voor die hofgebou aan die oorkant van die tuin parkeer. Dit is dié regslui se eerste en enigste, negatiewe, indruk van Kimberley.

“Die gedurige partytjies skep ’n veiligheidsrisiko vir veral vroulike regslui wat soms aande en naweke bestrede aansoeke in die hof moet doen en daar moet beweeg en parkeer. Wanneer ons regslui na die nabygeleë koffiewinkel by die Whag vergesel, moet ons vlak verby hope vullis en besope mense stap.

“Talle wette word oortree. Dit skep ’n indruk van geen gevolge van wets­oortredings wat openlik gepleeg word. Die poging om mense te verbied om na-ure daar te parkeer, word geïgnoreer. Al sien ek sommige Vrydae ’n polisie­voertuig daar, het dit skynbaar nie veel gevolge nie – partytjies word nog gehou.”

Nog ’n prokureur sê die hele park was vuil ná vakansiedae in Desember.

“Daar is mense wat karre was, vleisbraai hou. Daar is nie toilette nie en geen regulering om alles sindelik te hou nie. Die bottelskerwe is gevaarlik en skep nie ’n goeie beeld nie. Dit kom voor of niemand in beheer is nie.”

Sello Matsie, woordvoerder van die munisipaliteit, sê die situasie is ook aan die gemeenskap te wyte.

“Die munisipaliteit kan hoeveel verordeninge in plek stel, maar die gemeenskap moet saamwerk en dit nie toelaat nie. Ons het al hoeveel kere skoongemaak en bakkievragte bottels en blikke weggery. Ons het nie die personeel en tyd om heeldag te patrolleer nie. Die verkeersafdeling het al boetes uitgedeel.”

Kapt. Tessa Jansen, woordvoerder van die polisie, sê hulle is bewus van klagtes.

“Ons het al ingegryp en beplan om dit meer gereeld te doen. Dit behels klopjagte en polisiesigbaarheid om en in die park.”

Kashini Maistry, senior kantoor­bestuurder van die vise-kanselier van die SPU, sê ’n ooreenkoms oor die aankoop­prys van die tuin is in Junie 2021 met die munisipaliteit bereik en dié aankoop is vir die vereiste drie weke adverteer.

“Ons wag vir kommunikasie van die munisipaliteit oor die aanvang van die oordrag,” sê sy.

Maistry sê die SPU het ’n strategiese belang in die eiendom, asook in eien­domsontwikkeling aangrensend aan die universiteit. Die universiteit wil verseker dat toepaslike, gerigte en geïntegreerde ontwikkeling van sulke eiendom ’n geskikte landskap vir verbeteringe en die vestiging van die SPU op die duur skep.

“Die vise-kanselier, prof. Andrew Crouch, het sy onderneming om saam met die munisipaliteit ’n omgewing te skep waarby studente, personeel en ander burgers kan baat, uitgespreek.”

Met die oordrag van die tuin aan die SPU sal die instelling vir die instand­houding verantwoordelik wees, wat die ontwikkeling van infrastruktuur insluit. Veiligheid en sekuriteit sal deel van die SPU se sekuriteitsplan uitmaak.

Op ’n vraag of die SPU die gevandaliseerde Diggers’ Memorial Fountain na sy oorspronklike glorie sal herstel, sê Kashini verskeie ontwikkelings en verbeterings word vir die tuin beplan, wat mettertyd bekend gemaak sal word.

Die Oppenheimertuin in Kimberley is ’n gewilde kuierplek waar talle wette gereeld oortree word.

Deel van die Oppenheimertuin in KImberley.

Die verwaarloosde Diggers Memorial Foutain in die Oppenheimertuin in KImberley.

You need to be Logged In to leave a comment.