Maruping Lekwene MEC
Maruping Lekwene PHOTO: Charné Kemp

Die skielike bedanking van Maruping Lekwene as Noord-Kaapse LUR vir gesondheid is volgens ingeligtes tekenend van die ANC se dreigende ondergang, interne faksies en hul wanfunksionele administrasie van departemente.

Boonop is dr. Zamani Saul, premier, glo in eie geledere onder beleg weens sy “meerderwaardige” houding.

Só meen kenners en politieke partye wat ook glo die verdoemende verslag van die Gesondheidsombud oor die departement se wanfunksionele Noord-Kaapse Psigiatriese- en die Robert Mangaliso Sobukwe (RMS) -hospitaal het ‘n groot rol in die nuutste verwikkeling gespeel.

In ’n buitengewoon kort verklaring sê die premier hy het Lekwene se bedanking aanvaar en dat Mase Manopole as die waarnemende LUR vir gesondheid aangestel is.

MEC Maruping Lekwene
Maruping Lekwene FOTO: Facebook

“Die premier wil mnr. Maruping bedank vir sy diens en wens hom sterkte toe in sy toekoms,” word die verklaring afgesluit.

‘Afwyking van werkswyse dui op ernstige interne probleme’

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-universiteit, sê dis ongewoon en buite die ANC se werkswyse dat LUR’e hul poste ontruim.

“Gewoonlik bly hulle in hul poste ondanks ernstige aantygings. Hierdie afwyking dui op ernstige interne probleme. Die kwessie van die Gesondheidsombud se verslag is waarskynlik ‘n bydraende faktor. Die druk wat die vakbonde ook toepas impliseer moontlik konflik binne die drieledige alliansie, veral met die Congress of South African Trade Unions (Cosatu).”

Duvenhage sê dit kan ook ‘n strategiese herontplooiing wees: “Dit kan ‘n poging van die ANC wees wat as party in die moeilikheid is, om Lekwene te herposisioneer om vir die party te begin werk vir die volgende verkiesing.”

Saul se kort verklaring kan beteken dat hy daarmee die “aasvoëls van die karkas wil weghou en sake so spoedig moontlik afhandel. Hy wil nie verder aandag op die probleem vestig nie en aanbeweeg,” sê Duvenhage.

Probleme by departement kom al lankal

Pakes Dikgetsi, Cope se nasionale voorsitter, beweer Saul wat in 2019 die leisels vir die eerste keer as premier oorgeneem het, word meer ongewild onder amptenare en ampsdraers weens sy meerderwaardige houding.

Dr Zamani Saul
Dr. Zamani Saul FOTO: Facebook

“Hy regeer met ‘n ystervuis en alle aanstellings vir direkteure en departementshoofde word deur hom goedgekeur. Hy besef egter hy benodig steun op voetsoolvlak, en begin nou skuiwe maak om sy mees vertroude dienaars nader aan hom te bring. Dit is egter gevaarlik om jou eie publisiteit te glo.

“Die probleme by die departement kom al lankal, en is nie net Lekwene se skuld nie. Saul, selfs toe hy nog die ANC se provinsiale sekretaris was, het by dié departement ingemeng. ‘n Mens wonder of sekere belange beskerm moet word. Die departement met die tweede grootste provinsiale begroting se RMS-hospitaal kan ‘n Tembisa-hospitaal-skandaal in die kleine wees.

LEES OOK: Noord-Kaapse departement van gesondheid ‘deurdrenk met gevoelloosheid’

“Die minister van gesondheid was ná die bekendmaking van die Ombud se verslag baie krities oor die toestande by die RMS- en die psigiatriese hospitaal. Amptenare van die nasionale departement is glo weekliks in die provinsie om toe te sien dat sake reggeruk word. Boonop pas die vakbonde ook druk toe dat die hospitaal en departement beter bestuur word. Dit kan nie vir Saul aangenaam wees nie.”

Nog ‘n bewering is dat verhoudinge onder die party se provinsiale uitvoerende komitee (PEC) nie meer so gemoedelik is nie, meen Dikgetsi.

Besluit deel van ‘breër strategie’

Die ANC se verklaring oor Lekwene se bedanking is meer uitgebreid as die premier s’n. Hierin sê Deshi Ngxanga, provinsiale sekretaris, dat die bedanking volg omdat die ANC besluit het om Lekwene in ‘n “nuwe en strategiese rol as die ANC-verkiesingshoof in die Noord-Kaap te herontplooi.”

Dit vorm deel van die ANC se breër strategie om die “organisasie voor die 2026 plaaslike regeringsverkiesing te versterk.

Deshi Ngxanga
Deshi Ngxanga, ANC-provinsiale sekretaris. FOTO: Facebook/ANC

“Die ANC wil sy diepe waardering teenoor Lekwene uitspreek, en vir sy onwrikbare toewyding, dissipline en bydrae tot die regering en die mense van die Noord-Kaap. Gedurende sy ampstermyn in die uitvoerende gesag en in die wetgewer het hy met toewyding en integriteit gedien. Die ANC het volle vertroue dat hy ‘n belangrike rol sal speel om ‘n sterk, verenigde en goed voorbereide ANC vir die komende verkiesing te verseker.”

Ngxanga sê die premier en sy provinsiale uitvoerende raad se “kollektiewe leierskap sal stabiliteit en vooruitgang vir die provinsie bring en dienslewering verbeter. Herontplooiing is voortdurende pogings om bestuur en organisatoriese doeltreffendheid te versterk.”

‘Bedanking laat nie pasiënte herleef wat weens wanbestuur gesterf het nie’

Theo Joubert, VF Plus-LW, sê in ‘n verklaring die bedanking bevestig die departement se “algehele administratiewe, finansiële en morele verval soos in die Ombud se verslag gesien.

“Die provinsiale gesondheidstelsel het onder politieke en administratiewe wanbestuur ineengestort.  In die vierde agtereenvolgende gekwalifiseerde oudit het die ouditeur-generaal onder meer bevind dat onreëlmatige uitgawes van meer as R15,5 miljard nie ondersoek of teruggevorder is nie, bestuur van rekords en interne kontroles feitlik nie bestaan nie, verskeie infrastruktuurprojekte onvoltooid, verkeerd bestuur of oorbetaal is en departementele leierskap geen stappe geneem het om bevindings reg te stel nie.

Theo Joubert
Theo Joubert, VF Plus-LW. FOTO: Facebook

Die Gesondheidsombud het uitgewys dat pasiënte aan onmenslike toestande blootgestel is, voorkombare sterftes weens nalatigheid en swak bestuur plaasgevind het, die departement se toesigstrukture gefaal het, en die gesondheidstelsel in die provinsie ’n geïnstitusionaliseerde mislukking geword het.

LEES OOK: Ombudsman finds: Patients ‘literally froze to death’ at Northern Cape hospital

 “Dis ‘n direkte gevolg van politieke nalatigheid en ‘n gebrek aan aanspreeklikheid op die hoogste vlak.”

Joubert sê Lekwene se bedanking verlig politieke druk maar dit herstel nie hospitale nie, bring nie dissipline terug en laat nie die pasiënte herleef wat weens wanbestuur gesterf het nie.

“Die departement van gesondheid in die Noord-Kaap moet onmiddellik ingevolge Artikel 100 van die Grondwet onder administrasie geplaas word .

“Ons versoek dat die nasionale departement van gesondheid en die nasionale tesourie die finansiële en bestuursbeheer oorneem en ‘n forensiese oudit oor alle kontrakte, tenders en infrastruktuurprojekte sedert 2019 uitvoer. Die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag moet moontlike strafregtelike oortredings van die Openbare Finansiële Bestuurswet en korrupsie ondersoek. Spesiale provinsiale gesondheidsinspeksies moet uitgevoer word om pasiënte se veiligheid en menswaardigheid te herstel.”

LEES OOK: Vrae klink op oor asbes op leë perseel by Nasionale Hospitaal

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article