LUR tevrede met skole in NK

Die Noord-Kaapse onderwysdepartement sê hy is tevrede met sy skole se toewyding om aan die Covid-19-regulasies te voldoen.


Mac Jack

Mac Jack, LUR vir onderwys, met sy besoek aan die Laerskool Topline in Groblershoop op 28 Mei. Sy temperatuur word gemeet voordat hy die skool binnegaan. Foto: Verskaf

Die Noord-Kaapse onderwysdepartement sê hy is tevrede met sy skole se toewyding om aan die Covid-19-regulasies te voldoen.

Dit kom nadat amptenare op verskeie regeringsvlakke op Maandag 8 Junie 108 skole in die provinsie besoek het om hul gereedheid te beoordeel.

Onder die amptenare wat dié skole besoek het, is dr. Reginah Mhaule, adjunkminister van basiese onderwys, dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, Mac Jack, LUR vir onderwys, LUR’e, asook lede van die provinsiale wetgewer.

Die departement het in ’n verklaring gesê 515 skole het Maandag heropen, met geringe probleme wat aangemeld is.

“Ons het kennis geneem hiervan en ons werk onverpoos om hierdie kwessies te takel.”

Altesaam 19 van die 534 skole wat gr. 7 en gr. 12 aanbied, het as voorkomingsmaatreël nie heropen nie.

Dié skole is in die Umsobomvu- en Renosterberg-munisipaliteit – gebiede met ’n stygende aantal gevalle van Covid-19. Die provinsie het in totaal 562 skole, maar nie almal bied gr. 7 en gr. 12 aan nie.

Die departement sê hy het met sy besoeke gevind skole het voldoende klaskamers en lessenaars om gr. 7- en gr. 12-leerlinge te huisves.

Drie skole het uitdagings met voldoende en skoon ablusiegeriewe, 16 skole sukkel met die verskaffing van munisipale water en 18 skole het probleme met vervoer vir hul leerlinge.

Die departement sê hy is bekommerd oor kwaadwillige beriggewing in die media oor die situasie by skole.

Hy maan dat inligting eers by die departement bevestig moet word voordat dit verkondig word.

Hy het die onderwysvakbonde, beheerliggame en onderwyspersoneel vir hul toewyding bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.