Court image
The High Court in Kimberley has dismissed an urgent application brought by a disgruntled company director. PHOTO: Stock

Die Noord-Kaapse LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (CoGHSTA) het bloedneus in die hooggeregshof in Kimberley gekry. Dít nadat ‘n aansoek van dié staatsdepartement, om verlof tot appèl teen die Nama Khoi plaaslike munisipaliteit in Springbok, in ‘n hoogs ongewone stap met koste van die hand gewys is.

In haar uitspraak van 5 Desember het regter Mpho Mamosebo bevind dat daar geen redelike vooruitsigte op sukses vir die LUR se saak is nie.

Dié uitspraak bring ‘n einde aan ‘n maandelange regstryd oor die aanstelling van Jan Izak Swartz as waarnemende munisipale bestuurder, ‘n stryd wat die hof bevind het geen meriete dra nie.

Hierdie uitspraak het verreikende implikasies vir die verhouding tussen provinsiale toesighouers en plaaslike rade, veral waar administratiewe stabiliteit en dienslewering op die spel is.

LUR, departement voer aan aanstelling is ‘strydig met wet’

Die regstryd spruit uit die munisipaliteit se besluit om Swartz (die vierde respondent) as waarnemende munisipale bestuurder aan te stel, ondanks sy reeds aftree-ouderdom van 65 jaar.

Die LUR en die departement het vroeër vanjaar die hooggeregshof genader om die aanstelling onwettig en ongeldig te laat verklaar. Hulle het aangevoer dat die aanstelling strydig is met die bepalings van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels (Wet 32 van 2000). Die LUR het spesifiek gesteun op Artikel 54A(8) van die wet, wat die provinsie magtig om in te gryp indien ‘n aanstelling nie aan wetlike vereistes voldoen nie.

Ommeswaai vind plaas onder respondent se aanstelling

Die munisipaliteit wat voet by stuk gehou het, het aangevoer Swartz se aanstelling is noodsaaklik vir kontinuïteit en dat hulle reeds by die nasionale minister aansoek gedoen het vir ‘n kwytskelding van die ouderdomsvereiste ingevolge Regulasie 41.

In die hoofuitspraak van 27 Junie 2025, het Mamosebo in die guns van die munisipaliteit beslis en die LUR se aansoek om die aanstelling tersyde te stel, afgewys.

Die regter se destydse bevinding was grootliks gegrond op praktiese oorwegings. Daar was ‘n dramatiese ommeswaai in die munisipaliteit se geldsake sedert Swartz se oorspronklike aanstelling in 2022. Onder sy leiding het Nama Khoi vir die eerste keer in jare ‘n ongekwalifiseerde ouditverslag vir die 2023-’24 finansiële jaar ontvang. Dit is ‘n seldsame prestasie vir sukkelende Noord-Kaapse munisipaliteite.

LEES OOK: Former municipal manager acquitted of all counts in Calvinia Regional Court

Verder het die hof bevind dat Swartz instrumenteel was in die ontwikkeling van ‘n vyfjaar-strategie vir die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (IDP). Die regter het gewaarsku dat indien Swartz se termyn voortydig beëindig sou word, dit die implementering en monitering van die IDP nadelig sou beïnvloed.

Daar is ook bevind dat Swartz daarin geslaag het om talle vakante poste met bekwame, permanente amptenare te vul, wat broodnodige stabiliteit aan die administrasie verleen het.

Minister ‘swyg’ oor aansoek om kwytskelding

‘n Kritieke punt in die hoofuitspraak was die minister se versuim om te reageer op die munisipaliteit se versoek vir die verslapping van die ouderdomsperk. Die hofstukke toon dat die munisipaliteit reeds op 19 Maart 2025 ‘n aanmaning aan die minister gestuur het, maar dat die minister “geswyg” het. Die hof het bevind dit sou onbillik wees om die munisipaliteit te straf terwyl die nasionale departement sloer met sy besluitneming.

Ondanks die bevindings in Junie, het die LUR en die departement aansoek gedoen tot verlof tot appèl. Hulle het aangevoer dat ‘n ander hof moontlik tot ‘n ander gevolgtrekking sou kon kom, soos vereis deur Artikel 17(1)(a) van die Wet op Hoërhowe.

Die aansoek is op 24 November 2025 aangehoor. Adv. P. Mthombeni, namens die LUR, wou die hof oortuig daar is dwingende redes vir ‘n appèl. Hierteenoor het adv. A. Nacerodien, namens die munisipaliteit, Rodney Kritzinger en Swartz, aangevoer die aansoek het geen meriete nie.

Regter Mamosebo het die LUR se argumente verwerp en bevind daar is geen kenbare vooruitsigte op sukses nie, en ook geen dwingende redes wat die aandag van ‘n volbank regters of die Appèlhof regverdig nie.

Regter regverdig afwyk van norm in uitspraak

Dit is ‘n gevestigde regsbeginsel in Suid-Afrika dat wanneer twee staatsinstellings (soos ‘n provinsiale departement en ‘n munisipaliteit) teen mekaar litigeer, die hof gewoonlik nie ‘n kostebevel maak nie.

In die hoofuitspraak in Junie 2025 het regter Mamosebo die presedent gevolg en beveel dat elke party sy eie koste moet dra.

Met die aansoek om verlof tot appèl het die regter se geduld opgeraak. Die LUR se volharding met ‘n saak wat geen kans op sukses het nie, het volgens die regter ‘n afwyking van die norm regverdig.

Die hof het beveel dat die LUR en die departement die munisipaliteit se regskoste moet betaal, insluitend die koste van ‘n advokaat op Skaal C. Skaal C is die hoogste skaal vir advokaatsfooie onder die nuwe hofreëls en word gewoonlik gereserveer vir sake van groot belang of kompleksiteit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article