Bentley Vass, Noord-Kaapse LUR van samewerkende regering, behuising en tradisionele sake. Foto: Charné Kemp


Die harwar by die Thembelihle-munisipaliteit in Hopetown waar geen salarisse aan die einde van Januarie betaal is nie, gaan klaarblyklik nou opgelos word met die “geduldige benadering” wat die departement van samewerkende regering, behuising en tradisionele sake volg.

Waarnemende ampsdraers en amptenare word met die dorpsraad se samewerking aangestel om die chaos te probeer regruk en dienslewering weer aan die gang te kry.

Bentley Vass, Noord-Kaapse LUR van samewerkende regering, behuising en tradisionele sake. Foto: Charné Kemp
Die munisipaliteit het weens politiekery nog geen raadsvergaderings sedert die begin van 2022 gehou nie. Weens die afwesigheid van ’n dorpsbestuurder en senior bestuurders het die administrasie ineengestort.

Bentley Vass, LUR, het Dinsdag 7 Februarie gesê munisipale werkers het nie in Januarie hul salaris ontvang en diensverskaffers is nie betaal nie.

“Eerder as om die verkose raad te ontbind en die munisipaliteit onder administrasie te sit, wil ek die raad se samewerking kry om waarnemende rekenpligtige amptenare aan te stel en die wanfunksionele munisipaliteit ophelp.

“Die leemte van senior bestuurder het die administrasie in duie laat stort. Vandaar al die briewe wat ek van die burgemeester en ander raadslede gekry het om in te gryp.”

Die probleem draai om Danny Jonas, wat homself as die speaker beskou ondanks sy skorsing deur sy party, die Siyathemba Gemeenskapsbeweging-party (SGB). Hy betwis sy skorsing in regsgedinge met die SGB en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) wat hom van die kandidaatlys verwyder het. Die ANC en andere het ook ’n aansoek ingedien om Jonas te laat verwyder.

In een van die uitsprake het regter Violet Phatsoane, adjunkregterpresident, bevind die “antagoniste voer elkeen aan dat hulle in die beste belang van die raad optree. Die raad, wat die setel van goeie regering moet wees, is in spanning en wanfunksionaliteit gedompel. Uiteindelik sal die gemeenskap die gevolge hiervan moet dra soos dienslewering en administrasie verswak.”

Uit die 11 wyk- en proporsionele setels hou die ANC vyf, die DA een, die SGB een, VF Plus een en die EFF drie.

Benewens die politiekery het die munisipale bestuurder in Augustus ná enkele maande in die amp bedank. Die tegniese direkteur weier om waar te neem, en die finansiële hoof is geskors. Die korporatiewe dienstebestuurder is deur die raad afgedank, maar hy betwis dit in die arbeidshof.

“Die grootste struikelblok is die speaker se amp,” sê Vass. “Ingevolge wetgewing kan ons nie sonder ’n amptelike versoek van die raad ingryp nie. Ons het vele kere met raadslede vergader en hulle versoek dat ’n waarnemende speaker aangestel word. Die tien raadslede met wie ons ’n vergadering op 24 Januarie gehou het, het toestemming gegee dat ’n departementele amptenaar ontplooi word. By die daaropvolgende raadsvergadering wat die betrokke amptenaar byeengeroep het, is ’n waarnemende speaker verkies.

“Die raad moet ’n waarnemende dorpsbestuurder en ’n tegniese bestuurder aanwys. Ek oorweeg nog ander opsies om die munisipaliteit te help. Om dit onder administrasie te plaas hou ook nadelige gevolge in, daarom volg ek die diplomatiese pad. ’n Artikel 139-ingryping sal die laaste uitweg wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.