Ek kyk na die akkedissie waar hy onder ’n struik verskuil sit. As dit nie was dat die outjie beweeg het nie, sou ek hom waarskynlik nie raakgesien het nie. Hy is net te goed gekamoefleer.

Skielik wonder ek: Hoe sigbaar is ek? Word ek raakgesien? Is my identiteit duidelik sigbaar of is ek, soos hierdie akkedissie, goed gekamoefleer?

Kan mense sien wie ek werklik is?

Ek bely met vreugde dat ek ’n kind van God is. Ek bely dat Jesus my verlosser is, maar is dit sigbaar?

Hoe maklik raak ons as Christene nie in die gemeen­skap weg nie.

Soms is ons so in ons eie belange vasgevang dat ons nie eens teenwoordig is nie. Ander kere weer is ons teenwoordig, maar nie sigbaar nie.

Kom ons vra ’n slag die mense met wie ons elke dag te doen kry: Is ek sigbaar?

Nie net teenwoordig nie, maar so sigbaar dat ander my as ’n Christen sal herken. So sigbaar dat mense sal weet en sê ek is ’n kind van God.

Gelowiges moet te alle tye sigbaar wees.

Jesus het gesê ons lig moet só skyn dat die mense ons goeie werke kan sien en God verheerlik.

Hoe sal ons uitgeken word?

In Johannes 13 word aan ons ’n baie belangrike kenmerk uitgewys waaraan gelowiges uitgeken sal word. Jesus sê in vers 34 en 35: “Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article