Liefde strek tot uithoeke van wêreld

Hy beteken die wêreld vir haar – daarom het sy op Valentynsdag “stukkies van die wêreld” aan hom gegee.


Hy beteken die wêreld vir haar – daarom het sy op Valentynsdag “stukkies van die wêreld” aan hom gegee.

Anja Marais (35) van Kuruman het die konsep van ’n liefdesbrief letterlik baie verder geneem en briefies in lande soos Mexiko, Kanada, Ecuador, Australië en Spanje, en selfs op eie bodem, vir Danie Theron (38), haar verloofde, laat skryf. Boonop in verskillende tale.

Dit werk só: Jy vra vreemdelinge op ’n Facebook-groep om ’n briefie spesiaal vir jou liefie te skryf met ’n foto van ’n landmerk of iets eie aan daardie plek op die agtergrond. In ruil hiervoor moet jy ook ’n gros briefies skryf met ’n foto van waar jy is.

“Danie, Anja se liefde vir jou is so groot, dit het Tabasco in Mexiko bereik,” lui een van die meer as 40 briefies wat hy op Valentynsdag op Facebook ontvang het.

Sy het die konsep op ’n ander groep raakgesien en toe op die amptelike groep hiervoor, Love Notes From Around The World, afgekom.

Sy het op haar beurt 50 unieke briefies geskryf met Die Oog in Kuruman op die agtergrond.

Sy moes veral baie briewe in Spaans skryf.

Nie almal het hul kant gebring nie, en sy het net oor die 40 briewe terug ontvang.

Haar vriendinne Manda Matthaei, Almarie Williams en Lee-ann Kotze het ook namens haar briefies aan Theron geskryf, met onder meer die Uniegebou in Pretoria en dele van die Weskus op die agtergrond. Matthaei het foto’s in Piketberg, die wynlandgoed Schenkfontein, Elandsbaai en Dwarskersbos geneem.

Marais het Theron vroeg op Valentynsdag met al 46 briefies in ’n plasing op Facebook verras.

’n Briefie wat iemand in Halifax, Engeland, geskryf het.

“Danie, Anja se liefde vir jou is so groot, dit het Tabasco, Mexiko, bereik,” lui hierdie briefie.

’n Briefie uit die stad Tuxpan in Veracruz, Mexiko.

’n Briefie uit Ecuador.

You need to be Logged In to leave a comment.