‘Lewendige museum’ laat besoekers kyk, leer en proe

Die In die laer-uitstalling wat Saterdag (08/05) in Kimberley gehou is, waarin die tradisionele leefstyl van Voortrekkers met ossewaens, demonstrasies en ’n aandete uitgebeeld is, was volgens die koördineerder ’n groot sukses.


Jaco Janse van Rensburg en sy vrou, Endrietta, dem

Jaco Janse van Rensburg en sy vrou, Endrietta, demonstreer hoe vetkerse gegiet is. Foto: Charné Kemp
Jaco Janse van Rensburg is ’n meester wat osse van

Jaco Janse van Rensburg is ’n meester wat osse van jongs af afrig om ossewaens te trek. Foto: Charné Kemp
Klein Rudi Luyt (4), wat geweldig deur die uitstal

Klein Rudi Luyt (4), wat geweldig deur die uitstalling van die Voortrekker-leefwyse en kleredrag beïndruk is, by Marina en Piet Breytenbach. Foto: Charné Kemp
John Roderick vertoon van sy stokoue en gesogte ge

John Roderick vertoon van sy stokoue en gesogte gevlegte riempiestou wat tydens die Groot Trek gebruik is om osse voor kakebeenwaens in te span. Foto: Charné Kemp
Neylan van Zyl gooi die bal in die vierbalspel, wa

Neylan van Zyl gooi die bal in die vierbalspel, waarin die swaar bal op vier maniere gegooi word om uiteindelik die verste afstand te behaal. Foto: Charné Kemp

Die In die laer-uitstalling wat Saterdag (08/05) in Kimberley gehou is, waarin die tradisionele leefstyl van Voortrekkers met ossewaens, demonstrasies en ’n aandete uitgebeeld is, was volgens die koördineerder ’n groot sukses.

Marius Nagel sê Die Voortrekkers, Landsdiens en die Rapportryerbeweging het die uitstalling by die Agt Myl-plaas buite die stad aangebied.

“Die oogmerk is om geld in te samel om monumente rondom Kimberley skoon te maak en te onderhou. Op 22 Mei gaan ons werk by die Paardeberg-slagveld doen, waar die hekke by die monument stukkend is. Die konsentrasiekamp-gedenkteken in Kimberley het strukturele probleme en die konsentrasiekamp-grafte in die Weseinde-begraafplaas is gevandaliseer.

“Ons was verras met die inkomste uit die ingangs- en etekaartjies. Wat nog lekkerder is, is dat die mense gevra het dat ons dit weer volgende jaar aanbied. Volwassenes en kinders kon tradisionele gereedskap soos aambeelde, bankskroewe en domkragte bekyk, asook wafelpanne, potte, ketels en ander kombuistoerusting wat ons voorouers gebruik het. Die tradisionele speletjies was onder meer vierbal, en sak- en driebeenresies.” 

Die uitstallers wat lede van die Trekboer-vereniging is, het drie volledige ossewaens van Gauteng, Noordwes en die Noord-Kaap gebring. Hulle het demonstrasies en praatjies in tradisionele klere gelewer. Kimberliete het gesien hoe vetkerse gegiet, room tot botter gekarring, koeëls gegiet en voorlaaiers afgevuur is. John Roderick, van Kimberley, het gewys hoe ’n wawiel afgehaal en smeermiddel aangewend word. Roderick het sy spoggerige 1912-bokwa, die 2 344ste transportwa wat deur J. Merryweather and Sons in Pietermaritzburg vervaardig is, uitgestal. 

“My wa kan vragte van tot 16 ton dra. Ek het dit destyds in Britstown gekoop en ’n spesiale afdak by my huis daarvoor gebou. Ons vereniging het twee jaar gelede in die Waterberg ’n sirkelroete van 60 km gery en snags in die veld geslaap en geëet.”

Piet en Marina Breytenbach van Ottosdal het hul replika-kakebeenwa, wat in 1988 met die Groot Trek se 150ste herdenking gebou is, uitgestal. Jaco en Endrietta Janse van Rensburg van Kemptonpark sê hul vereniging wil kultuur bevorder deur ’n lewendige museum waar mense kan vat, voel, kyk en ervaar. Hy is ’n osmeester van formaat. 

“Die osse ken my en my liggaamshouding – hulle sal nie sommer vir ’n vreemde touleier of die een wat die sweep hanteer, luister nie. Dit neem so drie jaar om hulle van ’n jaaroud dier af te rig. Elkeen het sy eie temperament wat bepaal waar in die span hulle trek. Eers leer hulle om ’n juk gewoond te raak, dan die ketting. Daarna sleep hulle buitebande en later ’n ligte voertuig. Ek span eers twee, dan vier en dan ses osse agtermekaar in. 

“Namate die jong osse die bevele aanleer, raak hulle al hoe gemakliker en ontwikkel spiere. Hy dra ’n juk op sy skof en daardie spier moet ontwikkel word.

Sommige dae is die osse balhorig.

“Hulle breek jukke, wil omdraai, of stamp ’n maat met die horings. Die Afrikanerosse se horings raak lank, die ou weet presies hoe om iemand te haak as hy in ’n moeilike bui is.” 

Janse van Rensburg sê sy eerste liefde is sy osse. “Ons hanteer hulle met die grootste agting en liefde. Ons slaan hulle nie. Jy roep hom op sy naam, en die beweging van sy ore en sy liggaamshouding sê hy weet jy raas met hom. Die sweep klap net bokant hom as hy halsstarrig bly.”

Trekosse het tradisionele name. 

“Dit het te make met Jan, berge of dale, Afrikaner-leiers of die kleur van sy vel. Name soos Swartberg, Smuts of Rooijan.”

Voorosse is vinniger, jonger osse wat die pas aangee. Agterosse moet sterk wees om die disselboom te dra. Hulle is ook makker, sodat hulle nie mense met die opklim- en afklimslag van die wa beseer nie.

Die uitstalling is afgesluit met ’n samesang-geleentheid, vertellings en ‘n tradisionele aandete, met bestanddele uit die laer op vure gaargemaak. Van dié geregte is sosaties, skilpadjies, vars brood met botter, konfyt en kaiings, wildpastei, hutspot, pampoenpoffers, koeksisters en melktert.

Die pangeweer, wat ’n vuurstreep van ’n meter laat, is ook teen die donker hemel afgevuur. 

You need to be Logged In to leave a comment.