Lewende Water: Watter rol speel jy?

Ná Pinkster leef gelowiges in die “koninkrykstyd”.


Ná Pinkster leef gelowiges in die “koninkrykstyd”.

Die drie-enige God is Hoof van die koninkryk. Maar Hy werk nie alleen nie. Hy red, roep en stuur ons om die leefstyl in dié koninkryk te demonstreer.

Matt. 4:23-9:34 beskryf Jesus se woorde en bediening. Hoofstuk 9:35 is ’n belangrike oorgang: Van nou af bedien Jesus nie meer alleen nie; sy dissipels sluit hulle nou by Hom aan as sy vennote in bediening.

Hierdie is ’n belangrike draaipunt in die Mattheus-evangelie. Jesus se werk verbreed nou. Jesus sluit al sy dissipels in by sy bediening.

Die grootste struikelblok in die groei van die kerk was – en is steeds – die lewe van ons as sy navolgers.

Om navolger van Jesus te wees gaan meestal nie verder as om ’n lidmaat van ’n kerk te wees nie.

Tog gaan dit in werklikheid om die lewe in ’n nuwe bedeling, met alles wat dit behels. Die nuwe bedeling oorvleuel met die huidige.

Navolgers van Jesus moet ’n nuwe leefstyl demonstreer, terwyl die res steeds voortgaan in ’n bestaande bedeling. Terwyl die res hul eie kop volg en volgens aardse standaarde leef, het navolgers van Jesus ’n nuwe Leier gevind, en pas hulle aan by die standaarde wat Hy stel.

Paulus skryf later: Bedink die dinge wat daarbo is, en leef dan met daardie gedagtes op die aarde.

Wat is die “dinge wat daarbo” is? Mattheus noem ’n paar.

Medelye met die skare. Jesus het omgegee – daarom het Hy opgetree.

Jesus sien potensiaal in die skare. Jesus wil hê dat mense die volheid van lewe in God sal ervaar.

En Hy kies nie net toppresteerders nie. Mattheus noem sommige name: Petrus, die voortvarende wat diep sou misluk; Mattheus, die tollenaar wat met die Romeine saamgewerk het; en Judas, die verraaier. Hierdie mense word geroep en gestuur om in afhanklikheid van God te lewe.

Hulle gaan help om, te midde van die bestaande, ’n nuwe wêreld te vestig. Watter rol speel jy in die vestiging van die nuwe wêreld?

You need to be Logged In to leave a comment.