Petrus verduidelik in 1 Petrus 1 dat gelowiges se lewe, ongeag daarvan dat ons soms swaar kry en deur beproewing gaan, gerig word en ons met hoop uitsien na die onverganklike en onbesmette erfenis wat in die hemel vir ons bewaar word.
Daarom sy oproep in vers 13: “Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus.”
Die Amerikaanse sosioloog Tony Campolo vertel dat hulle aan ‘n groep bejaardes, ouer as 90 jaar, gevra het: “Wat sal jy anders doen, as jy jou lewe weer kan leef?”
Drie antwoorde het veral voorgekom. Die eerste: “Ons sal meer waag”. Die tweede: “Ons sal meer nadink oor waarmee ons besig is”. Die derde: “Ons sal meer tyd bestee aan dit wat blywende waarde het… dit wat ná ons dood nog steeds waarde sal hê”.
Die perspektief laat jou nuut dink oor waarmee jy besig is. Dit relativeer sommige dinge en verhoog die waarde van ander. Dit plaas jou prioriteite op die tafel: Wat is regtig vir jou belangrik? Wat het koninkrykswaarde… ewigheidswaarde?
Miskien is die volgende gepas: Maak ‘n lysie van die belangrikste waarmee jy tans besig is en die meeste tyd in beslag neem. Vra jouself eerlik af: Wat is die gerigtheid van my lewe?
Ons moedig gereeld jongmense aan om van vroeg te spaar en die regte beleggings te maak sodat hulle nie op hul ou dag moet sukkel nie. Hoe lyk ons “geestelike” beleggings?
Petrus sê daar is een belegging wat ons kan maak: Vestig jul hoop volkome op die genade wat jul deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus. Dit vra waagmoed, dis nie iets waarvoor ek en jy kan werk nie. Dis om God opnuut te glo en vertrou, dat Hy ons toekoms veilig in Sy hande hou.
Lees nog rubrieke hier.


