Gelowiges wonder soms waarom die kerk oënskynlik so min invloed in die wêreld het. Ten spyte van eeue-lange verkondiging van die goeie nuus, volg die minderheid mense vir Jesus getrou.
Ons gee baie redes hiervoor: Ons onvolmaaktheid, ons menslikheid, ensovoorts.
In Mattheus 11:16-30 gaan dit juis hieroor. Vooraf het Mattheus vertel hoe Jesus die mense geleer het en wonderwerke gedoen het. Hy het ook sy dissipels betrek en hulle uitgestuur om te bedien en ’n groot aantal wonderwerke het plaasgevind.
Tog word die weerstand en teenstand van die mense teen Jesus en sy bediening al hoe groter. Mattheus vertel dat slim en geleerde mense (11:25) aanstoot neem van Jesus en sy dissipels, en hulle nie bekeer nie. Of die wysie waarop gespeel is vrolik of hartseer was, niks het die mense laat saam dans of saam huil nie (16-17).
Matteus noem dat Johannes die Doper se oproep tot bekering verwerp is, dat hy as duiwel-besete beskou is oor sy afsonderingslewe in die woestyn.
Maar ook Jesus, wat tussen die mense geleef het, is verwerp. Hy is ’n vraat en wynsuiper genoem.
Wat sal die mense tevrede stel?
Mattheus beklemtoon die “werke”. Hy sê die dade van Jesus en sy boodskappers bewys dat hulle bediening eg is. Dit beteken dat daar ’n vrug na vore sal kom uit dit wat gelowiges doen en sê, ’n vrug wat vir mense aangenaam sal wees. Mense sal die leefstyl wil volg, omdat hulle sal ervaar dat hulle holisties floreer.
Wat van ons vandag?
Om die gemaksone van die eie ek te verlaat, is moeilik. Daarom steek ons vas.
Maar dit is ’n leuen van die vyand. Jesus wou juis sê dat deur Hom te volg, vir ons tot redding sal lei. Daarom die uitnodiging: Kom na My toe, almal wat moeg is van godsdienstige reëls, volg My en Ek sal julle rus gee. Volg My en julle sal vervulling vind, meer as wat julle ooit sal besef.
Wie saam met Jesus speel, wie deelneem, sal vind dat Jesus vrymaak en lewe gee.