Ek moes die dag ’n lidmaat in ’n buurdorp gaan begrawe.

Ek ry met ’n swaar gemoed die begraafplaas binne. Dit is ’n gewone begraafplaas. Alles getuig van leweloosheid – die rye grys stene, die hopie grond; boonop is dit kurkdroog. Toe sien ek dit: Hier en daar staan ’n klompie heldergeel botterblommetjies.

Onmiddellik lig dit my gemoed. Ek sal nooit weer net aan die somber atmosfeer van die geleentheid dink nie.

Ek onthou die heldergeel botterblommetjies wat so warm glimlag, so al asof hulle wil troos bring en ons herinner aan die nuwe lewe wat wag.

Die gebeure laat my onwillekeurig dink aan die lewe.

Die lewe is dikwels soos my eerste ervaring van hierdie dag – vaal, troosteloos en selfs bedreigend. So ’n wêreld neig om jou van alle vreugde en sin te beroof. Skielik onthou ek daardie woorde wat ’n mens so dikwels hoor: “Blom waar jy geplant is.”

Ons bevind onsself dikwels in moeilike omstandighede. Weet net dat God ons soos die botterblommetjies juis hier geplaas het om te blom.

Deur sy Gees maak die Here dit immers vir ons moontlik om te ontkom aan die doodsheid – die moedeloosheid en die uitsigloosheid, en om hier in ons buurt, ons omgewing ander se lewe op te vrolik.

Hy haal ons nie noodwendig uit die omstandighede nie, maar maak dit moontlik om te midde daarvan te blom.

Daarom roep Hy ons op om die beste van elke geleentheid te maak (Efesiërs 5:16).

You need to be Logged In to leave a comment.