Die haakbosse staan spierwit in die blom in die Kalahari. Dit is ’n teken van ’n nuwe seisoen. Behalwe dat die haakbosse blom, is die veld dor en droog en word met groot verwagting na die eerste reën uitgesien.
In die blaaie van die Bybel wemel dit van stories oor water. Ps. 42 verwys ook na water. Nie net na water nie, maar dors na water, die smagting daarna.
Hieroor is genoeg stories in die Bybel: 68 keer word vertel van mense, diere wat dors het. Om regtig dors te wees is seker van die benouendste ervarings.
Die Psalm sê dit dalk nog sag. Totius se Psalmberyming sê dit sterker: “Soos ’n hert in dorre streke, skreeuend dors na die genot van die helder waterbeke, skreeu my siel . . .!”
Hierdie smagting is om skreeuend dors te wees; tot sterwens toe dors. Ons digter sê: so dors hy … smag hy na God … met hierdie selfde intensiteit … dat God sal ingryp in sy ellende.
Ons storie is deel van die Bybel se storie om water; die smagting na water; die versugting om reën – dalk meer intens in die tyd wanneer die reënseisoen voorlê.
Ons sal onsself egter in dié tyd deeglik moet toets: Wat is dit waarna ons werklik smag? Smag ons na water of na God? Het ons met dieselfde skreeuende intensiteit ’n behoefte aan God?
Dit kan so maklik gebeur dat ons meer na God se gawes smag as na God self. Dan gaan dit net om myself en my behoeftes.
Ons sal ons verhouding met die Here weer deeglik in oënskou moet neem.
Is ons werklik bereid om soos die digter van Ps. 42 ons volle vertroue in God te stel? Dat Hy die God van my lewe word.

