Jo Black sing: “ ’n Skip word in ’n hawe gebou”. ’n Skip in ’n hawe lyk vir my en jou baie mooi, maar dit is nie waarvoor skepe gemaak word nie. Ons is gemaak om op die golwe van die diepste oseaan uit te gaan.

Ja, en hoe beleef ons nie al die storms wat om ons woed nie.

Inderdaad is dit so dat ons soms voel of die storms van die lewe ons gaan onderkry.

Dit was ook die gevoel van Jesus se dissipels op ’n keer toe hulle saam met hom op ’n skuit op die see was. (Matt. 8:23-27).

Hulle vertel van die gr. 1-juffrou wat haar kinders die ou Hallelujalied geleer het: “As die lewensstorme woedend om jou slaan”.

Sy kom toe ná ’n tyd agter die kinders sing nie wat hulle geleer is nie. Hulle sing: “As die leeu jou storm moet jy woedend om jou slaan.”

Of dit lewensstorme is, of ’n leeu wat storm, Jesus is teenwoordig op ons lewensskip. Hy slaap nie, soos sy dissipels gedink het nie. In sy almag kan hy die storms om ons stil maak.

Hulle vertel van die vlootoffisier vars uit die vlootakademie. Sommer gou moet hy die skip gereed kry en uit die hawe laat vaar. Pas uit die hawe kom ’n matroos met ’n boodskap van die bevelvoerder: “My persoonlike gelukwense aan jou vir die voltooiing van jou eerste taak. Jy het alles perfek gedoen in ’n rekordtyd. Maar in jou haas het jy ’n fundamentele reël vergeet: Maak seker dat die skip se bevelvoerder aan boord is voor jy vertrek.”

Ons mag nooit sonder die Bevelvoerder vertrek nie.

Hy hoort aan boord, saam met ons.

You need to be Logged In to leave a comment.