Illustrasie van lewende water vir geestelike rubriek.
Ter illustrasie FOTO: Helena Barnard

Psalm 121 is nie net nog ‘n psalm nie – dit is ‘n pelgrimslied, ‘n lied vir op pad wees deur die lewe. In antieke Israel was dit ‘n groot gebeurtenis om na Jerusalem op te trek. Pelgrims het van ver gekom om in die tempel te aanbid en dankoffers te bring.

Hierdie psalm is waarskynlik uitgespreek net voor die terugreis: ‘n gebed, ‘n tweegesprek. Die pelgrim vra: “Waarvandaan sal my hulp kom?” Dit is ‘n vraag gebore uit benoudheid − ek sien die berg hier voor my wat ek moet oor; ek sien die moontlike gevare; watter gerusstelling is daar vir my as ek hierdie terugtog aanpak?

Hy het God intens ervaar in die erediens, maar nou wonder hy: Sal dié ervaring my dra op die gevaarlike pad wat voorlê?

Hy antwoord homself: “My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.” God is nie net Skepper nie; Hy is Onderhouer. Dié God wat hy sopas aanbid het, is die Een wat hom beskerm.

Dan, van vers 3 af, verander die taal. Iemand anders, waarskynlik sy priester, sê: “Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie … die Here sal jou beskerm.” Dit is nie meer net sy eie belydenis nie. Dit is ‘n seën, ‘n belofte van God self.

Psalm 121 is ‘n brug tussen erediens en alledaagse lewe. Dit herinner ons dat God nie agterbly in die kerk nie, maar saamstap in elke aspek van ons bestaan.

Soos vers 8 sê: “Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan nou en vir altyd.”

Die woorde bied troos vir elke reis wat ons onderneem. Of jy nou in ‘n nuwe seisoen van die lewe instap, ‘n moeilike tyd deurmaak, of net daagliks met die uitdagings van die lewe worstel, jy kan weet: die Here is met jou.

In ons wêreld vol chaos, geweld en onsekerheid is Psalm 121 ‘n anker van hoop.

Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.