When Christ calls a person, He calls him or her to come and die. The cross is not the terrible end of a pious, happy life. Instead, it is the beginning of community with Jesus Christ. (Dietrich Bonhoeffer)
Ons kan op twee maniere aan Christenwees dink.
Ons kan dit sien as ’n lewe van bevoorregting, dat Christene gelukkige mense is wat vooruitgaan omdat hulle die regte lewenswyse het. Jy wens dan jy is een omdat jy dink dat dit dan met jou sal goed gaan.
Of jy kan soos Bonhoeffer meen dit gaan om mense wat dienend eintlik algaande aan’t sterf is. Om God en jou naaste te dien, vra dat jy eers moet sterf aan jouself, want jy kan nie jouself én God, jouself én jou naaste in gelyke mate dien nie.
Wanneer jy jouself belangriker as ander ag, is dit eintlik onmoontlik om hulle te dien.
In Mattheus 10 verduidelik Jesus aan sy dissipels in geen onduidelike taal nie, dat die reis waarop Hy hulle nooi, baie moeilik gaan wees. Hy som dit op met: “Ek stuur julle soos lammers onder wolwe in”.
Maar dit is gelukkig nie al wat Hy noem nie. Hy sê hoewel die reis moeilik sal wees, sal God altyd saam met hulle op die reis wees. En wat ook al gebeur, sal God hulle bystaan soos Hy die mossies ondersteun – “En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.” Die kern-betekenis van hierdie beeldspraak is dat niks met hulle kan gebeur buite God se sorg, omgee en voorsienigheid nie.
Ja, op ons lewensreis is ons dikwels bang, maar ons kan weet: Eintlik gaan dit op ons lewensreis nie oor wat mense áán ons kan doen nie, maar wat God vír ons doen. Daarom vrees ons nie die mense nie, maar God!
Hierdie vrees is nie dieselfde as om iets te vrees wat jou kwaad kan aandoen nie. Nee, dit is heilige eerbied.
Om Jesus te volg, ongeag die prys, is die kroon op die lewe.