Die lydens- en kruisverhaal van Jesus is inderdaad ’n vreemde verhaal.
Op ’n manier sit daar iets onverwags in die verhaal – amper onwerklik.
Dit klink na ’n goeie plan wat erg skeefgeloop het. Dit is ’n hartseerstorie, ’n mens kan dit kwalik glo. Die Messias kom na Israel, maar hulle herken hom nie. Sy bediening ontlok in so ’n mate weerstand dat die leierskap van die volk Hom uit die weg wil ruim. Selfs sy eie dissipels verstaan by tye nie.
Jesus vertel hulle ’n derde keer dat hy moet ly en doodgemaak gaan word (Markus 10:33-34).
Johannes en Jakobus vra Hom in vers 37: “Wanneer U as koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”
Hulle dink aan ’n seëvierende Messias. Die ironiese uiteinde: Israel kruisig sy eie Messias.
Dit voel dalk vir ons dat God se plan deur mense gekaap word en op ’n totaal ander plek eindig as wat God beplan het. As ’n mens tog die verhaal lees, weet ons dit is nie die geval nie.
Die evangelieskrywers teken Jesus nie as ’n slagoffer nie.
Alhoewel daar oomblikke in Getsemane was wat Jesus se moed hom amper begewe het, was dit ’n pad wat hy gewillig geloop het vir elkeen van ons.
Die diepste rede vir die kruis is opgesluit in Markus 10:45 waar Jesus sê: Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.
Jesus se kruisdood is deel van God se plan om ons los te koop.

