Waarheen is ons op pad in 2024? Een van die beginsels wat Stephen Covey in sy boek, Seven habits of highly effective people uitlig, is “to start with the end in mind”.

Ons ploeter meermale met ons geestelike lewe op ons ou gebaande weë voort omdat ons nie lekker weet waarheen ons op pad is en waartoe die Here ons roep nie. Daar is baie keer by ons ’n gebrek aan ’n helder visie op die toekoms.

Daarom dat Paulus in Efesiërs 1:18 bid: Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet… watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het.

Ons kan maklik aan hierdie erfenis dink soos Ferdinand Deist sê “a pie in die sky when you die”. Eendag, aan die einde van die tyd sal die Here ons die erfenis gee.

God beloof hierdie erfenis – sy koninkryk vir ons – nie net vir eendag nie, maar wil hê dit moet nou in die hede aanbreek.

Paulus kan dit bid, want Hy het deur sy dood en opstanding reeds die bose oorwin. Hy wil nou reeds vir ons ’n beter lewe gee wat van hierdie oorwinning spreek. Ons kan so maklik leef asof Hy nooit opgestaan het nie.

Hoop is om in ons donkerste donker die lig te sien deurskemer en weer nuwe lewensmoontlikhede te sien.

Om ’n helder visie te ontwikkel is ’n skeppende proses wat afhanklik is van ons vermoë om raak te sien waar God aan die werk is en ook die vermoë om nuwe moontlikhede raak te sien.

Dit vra inderdaad van ons ’n spesiale manier van kyk.

You need to be Logged In to leave a comment.