“Ek gee julle ‘n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” (Johannes 13:34-35)
Maatskappye is baie gesteld op hul handelsmerk. Baie moeite word gedoen om te verseker dat produkte aan hoë standaarde en gehalte voldoen. Hulle sal alles doen om hul handelsmerk te beskerm.
Ek wonder nogal oor die kerk. As die handelsmerk van die kerk liefde vir mekaar is, wat doen ons om hierdie handelsmerk te beskerm? Hoe lyk die produk wat ons lewer?
Ek onthou toe ek ‘n kind was, was daar ‘n magdom “Liefde is”-prentjies. Daar was duisende. Miskien om ons daaraan te herinner dat die liefde duisende gestaltes het. Dat liefde op verskillende maniere gekommunikeer word. Tog moet ons oppas vir ‘n alte romantiese prentjie van wat liefde is.
Die Christelike liefde het in alle terme baie hoë gehalte waaraan dit moet voldoen. Jesus sê: “Julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet.”
Ons moet sy voorbeeld navolg. Ons sien liefde vergestalt in die lewe en werk van Jesus Christus. Ons sien sy liefde in sy absolute passie vir mense. Ons sien dit in die manier hoe Hy met mense omgegaan het en op ‘n onvoorwaardelike wyse na hulle in nood uitgereik het.
Maar veral in sy alles opofferende liefde as Hy vir ons aan die kruis sterf. Dit is die gehalte van liefde wat die handelsmerk van die kerk en van ons as sy dissipels moet wees.
Om mekaar onvoorwaardelik lief te hê, was nog nooit maklik nie. Veral nie waar daar spanning en konflik is nie, of waar mense hul eie belange vooropstel nie.
Liefde is nooit ‘n goedkoop saak nie – dit vra altyd dat ek die minste moet wees. Dat ek iewers moet opoffer, dat ek my eie belange op die agtergrond skuif.