Lewende Water: Lewende God gee jou nuwe moed vir elke dag

Die Israeliete se oortuigings oor God was uniek in vergelyking met ander volke se afgode.


Die Israeliete se oortuigings oor God was uniek in vergelyking met ander volke se afgode.

As jong mens het ek die skeppingsverhaal in Genesis 1 as geskiedenis – selfs wetenskap – gelees; as die verklaring van hoe die wêreld tot stand gekom het.

Ek het dit dus as ’n argument gebruik teen diegene wat glo dat die wêreld deur evolusie ontstaan het.

In my studiejare het ek ontdek dat dit anders gelees moet word.

Die verhaal is geskryf toe die Israeliete in ballingskap was en diep oor hul geloof en hul God nagedink het.

Het hulle God en Sy beloftes verkeerd verstaan? Het God hulle vergeet? Was Hy nooit waarlik God nie?

In hul nadenke kom hulle tot die oortuiging dat God wél heeltemal anders is as die afgode van die volke rondom hulle.

Hulle beskryf God as handelend. Waar die ander gode dood is en nie iets kan doen of sê nie, is hul God lewend.

Dan skryf hulle hierdie lofgedig oor die skepping.

Waar ander volke se skeppingsverhale vertel hoe die wêreld tot stand gekom het deur byvoorbeeld die stryd tussen verskillende gode, sê Israel hul God het self die inisiatief geneem; Hy het net gepraat, en toe het dinge gebeur.

Die afgode kan niks aan die mense bied nie, maar deur die skepping bewerk God vir die mense lewe. Hulle getuig dat God alles in die wêreld geskep het, en dat niks in die skepping verhef en aanbid mag word nie.

Hulle beskryf hoe die mens as gelykes gemaak is, as man en vrou.

Daarmee wil hulle beklemtoon dat ’n mens nie uit die skeppingsverhaal enige superioriteit tussen geslagte of groepe kan aflei nie.

As ’n mens so na God se skepping kyk, besef jy dat Sy droom oor hierdie wêreld uniek is.

Wanneer jy as mens hierby inval, kan jy ’n besonderse toekoms verwag.

En dit gee die Israeliete, daar waar hulle in ’n vreemde land sit, weer moed.

Ook vir my en jou vandag.

You need to be Logged In to leave a comment.