“En leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.” – Kol. 3:10 en 11
Ons onthou die onskuldige kinderlied “Skyn jou lig vir Jesus met ‘n helder glans”; en in die refrein sing ons “jy in jou klein hoekie en ek in myn”.
Eintlik is dit die mees on-Christelike lied wat ons kan sing, want in die Christelike taal is die woorde “ek” en “my” so uit soos koekies in die weeshuis. Dié woorde belemmer gemeenskap tussen mense.
Dit verhef die individu bo die groep en stel eiebelang bo groepsbelang. In die Christelike woordeskat word “ek” en “my” vervang met ons en die belange van die groep voorop.
Die Afrika-beginsel van Ubuntu, “ek is mens deur ander mense”, is nader aan die Christelike taal as die leefwyse waar alles om die individu en eiebelang wentel. Bybelse taal is inklusiewe taal, sluit in en nie uit nie.
Sam Kobia het gesê: “If you want to walk fast, walk alone. If you want to walk far, walk together.”
Ons sal opnuut in ons kerk en land moet leer om diversiteit te waardeer en omarm.
Otto Scharmer praat daarvan as ‘n wegbeweeg van ego-gesentreerdheid na eko-gesentreerdheid en ondersteep die waarde van oop netwerke waarin ons op ‘n skeppende manier saam begin soek na ons roeping en rol binne die samelewing waarin ons leef.
Ons sal doelbewus moet leer om uit ons bekende kring te beweeg – buite ons gemaksone – en te begin praat met mense van ander ouderdomsgroepe en uit ander geslagte, klasse en kulture.
Inklusiewe taal beskik oor die vermoë om die speelveld gelyk te maak. Dan laat staan ons ons vooroordele, beterweterigheid en kritiek. Met inklusiewe taal erken ons die waarde van ander en besef ons dat ons almal ‘n rol te speel het om van die kerk of gemeenskap ‘n beter plek te maak.


