In Matteus 13:31-33 vertel Jesus die bekende twee gelykenisse: Die koninkryk van die hemel is soos ’n klein mosterdsaadjie wat ’n groot boom word, en ’n klein bietjie suurdeeg kan ’n hele kom deeg deursuur.

Met die vertel hiervan was die weerstand teen Jesus aan die opbou, veral vanaf die Joodse leiers. Hulle het nie gehou van wat hy geleer het nie. Ook dié gelykenisse sou hulle ook ontstel.

Mosterdsaad en suurdeeg was volgens wet in Joodse huis­hou­dings verbode. ’n Mosterdboom was verklaarde onkruid – dit neem ’n tuin oor. Suurdeeg verkort die rakleeftyd van brood.

As Jesus oor mosterdsaad en suurdeeg praat, het hy hulle volle aandag.

Wat Hy sê, is dit: Die koninkryk van God breek aan, teen alle verwagting in, teen die bestaande orde in. Dit begin onverwags… met ’n maagd uit Nasaret (’n geringe klein dorpie) wat swanger word, wie se seun in ’n stal gebore word.

Hy word groot, nie in ’n paleis soos ander konings nie, maar as die seun van ’n eenvoudige timmerman. Die koninkryk breek nie aan met die triomf en fanfare wat die Jode verwag het nie. Dit begin klein deur die leer en lewe van Jesus.

Ondanks dié klein begin sou dit die hele wêreld bereik. Vir ons wat geneig is om van ’n molshoop ’n berg te maak, wat voel die probleme, die gebrokenheid en nood in ons land en gemeenskappe is net te groot… só oorweldigend dat ons nie ’n merkbare verskil kan maak met ons powere pogings nie.

Ons moet die gelykenisse mooi hoor: In God se koninkryk word ons klein pogings wonderlik groot.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article