Ons kan baie leer uit Israel se omswerwinge in die woestyn en hul intog in die Beloofte Land. Josua, Kaleb en ‘n paar verspieders word vooruit gestuur om die land te verken. Dit is opvallend hoe verskillende perspektiewe binne die groep ontstaan.

Almal was dit eens dat die land groot moontlikhede het, en letterlik ‘n land van melk en heuning was. Tog het ‘n kleiner groep gemeen dat die land te gevaarlik was. Die stede was beveilig en die mense so groot soos reuse (Num.13:33).

Die minderheidsgroep het die res van die volk op sleeptou geneem, sodat hulle nagdeur gekla het en hulleself verwens het dat hulle uit Egipte weggetrek het.

Daar was egter ook ‘n ander perspektief, dié van Josua en Kaleb. Die twee leiers het nie die werklikheid van die nuwe land ontken nie, maar het met ‘n Goddelike perspektief geleef. Hulle het verstaan dat die nuwe land God se belofte aan sy volk was en dat Hy dit aan sy volk sou gee.

Hul eenvoudige perspektief was dat God sterker as die grootste reuse is.

Hoor wat sê hulle in Num.14:9: “Julle moet net nie teen die Here in opstand kom nie. Moet ook nie vir die mense van die land bang wees nie, want ons sal hulle maklik verslaan. Hul gode sal hulle nie kan beskerm nie. Die Here is by ons.”

Ons staar dikwels so na reuse-probleme om ons dat ons reuse-geleenthede laat verbygaan. Ons sien moontlikhede en geleenthede, maar deins weg omdat ons vrese groter is as ons hoop.

Vrees vir moontlike weerstand is groter as geloof in die liefde en ondersteuning van ons Vader.

Wat staan voorop in jou gedagtes? Struikelblokke, teenstand en uitdagings, of die magtige teenwoordigheid van God? Fokus jy op probleme of God se roeping vir jou?

Leef met die versekering: Die Here is by ons. Moenie bang wees nie.

Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.