Herfstyd, wat ’n mooi tyd. Die geel, roesbruin en rooi van die blare wat verkleur, is asemrowend.
Herfsdae is meestal van die lekkerste dae van die jaar omdat die son sy dooierusgreep op ons laat vaar en die koeler lug inderdaad ’n lafenis is.
Tog laat herfs ons dikwels met ’n gevoel van weemoed omdat die somer verby is en dié seisoen die aankondiger van die komende winter is.
Boonop dra die blare wat val by om ons van ons sterflikheid en die kortstondigheid van die lewe bewus te maak.
Dit alles bevestig dat ons aan verandering uitgelewer is.
Niks is seker nie. Nie ons veiligheid nie, nie ons gesondheid nie, nie die behoud van ons besittings nie.
Al waarvan ons seker is, is dat niks seker is nie. ’n Mens sal selfs kan sê dat verandering gewaarborg is.
Hieroor het ons geen beheer nie.
Die blote gedagte hieraan maak ons angstig. Hoe leef ons hiermee saam?
Die Woord beantwoord hierdie vraag, nie deur vir ons te sê dat dinge nie sal verander nie, maar deur in Jakobus 1:17 vir ons te wys op iemand wat nie verander nie – iemand wat te midde van al die verandering dieselfde bly.
Die Here wat nie verander nie, verseker ons dat ons op Hom kan reken.
Ons kan aan Hom vashou, want Hy hou ons vas.
Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting. – Psalm 46:11