Gesprekke oor swak dienslewering en oneerlikheid is nie ongewoon nie.

Iemand begin skaars vertel van die swak diens wat hy ontvang het, dan is die ander by met sy storie.

Diens is nie wat dit behoort te wees nie, en baie produkte is nie op peil nie.

Daardie produkte beloof om jou lewe in ’n japtrap te verander, maar val uitmekaar ná slegs ’n paar keer se gebruik. Of jy sit met ’n leë beursie en geen resultate nie.

Dit is lekker gesprekke hierdie, want dit plaas altyd die “ander” onder die soeklig of in die beskuldigdebank en jy kom skotvry af.

Veral as jy geen sigbare produk lewer wat deur die verbruiker teruggebring kan word nie. Niks waarvan hy kan sê dit is stukkend, dit werk nie of dit het sleg geword nie.

Toe ek nou die dag weer ’n keer Psalm 15 lees, tref dit my skielik.

Ons produseer daagliks ’n klomp woorde waarmee ons ons liefde verklaar, ander vertroos, ooreenkomste aangaan en beloftes maak.

Ons bedien mense met ons woorde.

Hoe lyk die gehalte van hierdie diens?

Hoe betroubaar is ons woorde?

Doen ons wat ons woorde sê?

Hoe maklik sê ons nie een ding en doen dan ’n ander nie?

Hoe maklik plooi ons dan nie weer ons woorde om ons dade te regverdig nie?

Psalm 15 roep ons op om betroubare woorde te spreek – om te alle tye woord te hou tot die uiterste toe – selfs al is dit tot jou eie skade.

You need to be Logged In to leave a comment.