Het jy al by ’n graf gestaan en gehoop dit is net ’n nare droom?

Of die stukkies van ’n flenter-huwelik aanmekaar probeer las?

Wou jy al die horlosie terugdraai na ’n tyd voor daardie slegte keuses wat jy gemaak het? Het jou verhouding met mense só verbrokkel dat jy vorentoe nie hoop sien nie?

Doodloopstrate is nie wat God vir ons in gedagte het nie.

Ons beland dikwels daar omdat ons baie dinge verkeerd besluit en verkeerd gedoen het. Dan weet ons nie hoe om dit reg te stel nie en wil moed opgee.

Paulus het ook geworstel met die verkeerde keuses wat ons maak.

Hy sê ons het ’n onweerstaanbare geneigdheid om die goeie te bedink, maar die slegte te doen.

Hoe gebeur dit? Paulus reken dat ons nie in staat is om die wet volkome te gehoorsaam nie. Ons sal foute maak. Dit is in ons aard.

Maar God wil dit nie so hê nie.

Daarom maak Hy ons vry van ons verkeerde dade op ’n ander manier.

Hy laat iemand anders daarvoor betaal, naamlik Jesus.

Dit is Sy geskenk aan ons. Dit is wat Hy bedoel met: Daar is dus nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie. (Romeine 8:1).

Die Heilige Gees kom ons verder help. Wanneer ons die Gees toelaat om ons gedagtes te beheer, sal ons gedrag al meer ooreenstem met wat God vir ons in gedagte het.

Hierdie is ’n lewenslange proses, dit vind nie oornag plaas nie en slaag ook nooit volledig nie.

Dit is ’n groeiproses. God gee ons nuwe kanse wanneer ons dit die minste verdien, en daarom die minste verwag.

As jy moedeloos is oor verspeelde kanse, as jy dink daar is geen hoop meer vir jou nie, dan vra Paulus jou om weer te kyk na Jesus.

Aanvaar in jou hart en gedagtes dat Sy kruisdood vir jou ’n nuwe kans gee.

Staan op en gaan praat hieroor met iemand wat jy as geestelike leier vertrou.

Moenie huiwer nie, jou redding is naby.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article