Wat is daar wat ek en jy vir ons kinders kan nalaat die dag as ons nie meer daar is nie?

Erflatings kan nogal handig te pas kom. Dit is nie net die stoflike dinge wat ons aan ons kinders agterlaat nie, maar ook daardie geestelike kwaliteite wat ons aan ons kinders oordra, wat kosbaar is. Dit is veral die dinge wat ons dikwels onbewustelik aan ons kinders oordra wat vir hulle van groot betekenis is.

Die lewenswaardes wat ons bewustelik of onbewustelik van geslag tot geslag oordra is van die uiterste belang.

Vandag wonder ek, wat is daar wat ons as bewoners van hierdie land, gesamentlik aan ons kinders kan nalaat, iets wat vir hulle kosbaar is?

Iets wat hul lewensbestaan in die toekoms kan vergemaklik? My gedagtes steek vas by een besondere kwaliteit: integriteit. Daardie eienskap wat spreek van vaste morele waardes en ’n lewe wat daarvolgens geleef word.

Waardes soos eerlikheid en respek vir ander speel hierin ’n groot rol – respek ook vir hulle wat anders as ek is.

Integriteit skep ’n ruimte waarbinne mense kan leef, al verskil ons ook van mekaar.

Ons samelewing kan so anders wees as ons nie net oor integriteit praat nie, maar ook met integriteit leef.

Kom ons skryf integriteit in ons testament aan ons kinders deur nie net daaroor te praat nie, maar deur dit voor hulle te leef.

Laat ons ja eenvoudig ja wees en ons nee, nee, soos Jesus ons leer. (Mat. 5:37)

You need to be Logged In to leave a comment.