In die wêreldgeskiedenis is datums wat bo die res uittroon, datums wat hoogte- én laagtepunte verteenwoordig.
Eersdaags word die kruisiging van Jesus herdenk; die dag waarop Hy aan die kruis gesterf en uitgeroep het: “Dit is volbring!” (Joh. 19:30).
In die geskiedenis is geen datum so rooi soos hierdie dag nie. Geen gewigtiger oomblik was daar of sal wees as toe Jesus geroep het: “Dit is volbring!”
Wat is volbring? Eerstens is dit die laagste punt ooit. Dit wys waartoe ons as mensdom in staat is – die ergste is volbring.
Die Nederlandse teoloog, prof. Carl Korff, noem dit moord op God. Die allerergste van sonde en boosheid van die mens word saamgepers in die een uitroep.
Tweedens kan ’n mens na dit kyk vanuit die perspektief van wat Jesus vir die mensdom doen.
Dit is ’n hoogtepunt.
“Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” lees Joh. 1:29. Aan die kruis is Hy die Paaslam wat bevryding bring.
Die Griekse woord vir die uitroep is ’n boekhouterm. Sodra iemand sy skuld by die bank vereffen het, is ’n kwitansie met die woorde daarop uitgereik.
Jesus betaal nie vir Sy skuld nie – maar ons sondeskuld.
Die uitroep dui op oorwinning; die ganse hemelse leërskare jubel soos wanneer ’n atleet ná ’n vermoeiende wedloop die lint breek. Christus het ons liefgehad tot by die einde (Joh. 13:1). Die wenstreep is oorgesteek.
Jesus het alles volbring, en ons moet juig. Geloof is om te juig oor ons verlossing – met ons lippe en ons lewe. Sondae is ’n jubelkreet. Elke goeie werk, elke liefdesdiens, elke erediens is ’n uitroepteken agter Jesus se woorde: Dit is volbring!
- Ds. Kobus van Tonder van die NG kerk Vanzylsrus lewer voortaan die maandelikse geestelike rubriek


