Kersfees verkondig: God met ons. Dit bring vreugde. Die kruisgebeure laat ons iets verstaan van God se liefde en genade en maak ons dankbaar.
Uit sy opstanding weet ons lewe is sterker as die dood. Dit gee ons hoop, maar hoe help Hemelvaart met ons geloofslewe? Vir baie is Hemelvaart ’n teken van afskeid en mense wat agterbly. Ons identifiseer met dissipels wat half verwese na ’n leë hemel staar.
Matteus sluit sy evangelie in Matt. 28:20 af met Jesus se laaste woorde: En onthou; ek is by julle al die dae tot en met die voleinding van die wêreld.
In Matt. 1:23 word Jesus se geboorte aangekondig: “ . . .en hulle sal hom Immanuel noem.”
Dit beteken “God met ons”.
Wanneer Matteus sy evangelie afsluit, wil hy sê: Dit is nog steeds waar. Hy bly God met ons.
Op watter wyse is hy by ons teenwoordig as die een aan wie alle mag gegee is op hemel en op aarde (Matt. 28:18)?
In ons lyding en swaarkry kan ons weet hy is magtig teenwoordig. Dit is wonderlike woorde. Maar kan ons dit glo? Ons sien so min van God se almag.
Wat ons ervaar, is magsmisbruik en ’n stryd om mag. Hoekom? Waarskynlik omdat so min van die middeldeel van Matt. 28:18-20 tot sy reg kom.
Christus se mag en teenwoordigheid staan direk in verband met ons roeping as gestuurdes van die Here wat ’n duidelike opdrag ontvang: Maak dissipels, doop hulle, leer hulle.
Dit is die wyse waarop Christus sy heerskappy uitvoer. Deur sy gestuurdes is God teenwoordig in die wêreld.

