Jakobus gee ons riglyne waarvolgens ons kan leef. Hy praat heeltyd oor die doen-kant van ons geloof.

Dit is opvallend watter sentrale rol gebed speel. In Jak. 1:5-6 praat hy oor gebed, gelowige gebed, en in Jak. 5:13-20 praat hy weer uitvoerig oor gebed.

Dalk is dit Jakobus se manier om te sê dat die manier hoe ons leef, nou verweef is met ons gebedslewe.

Daar word gesê dat gelowiges se gebedslewe in ’n sekere sin die barometer is van hoe dit met ons geestelike lewe gaan.

Hoekom is bid so belangrik?

Dalk voel ons asof ons saam met Isaac Singer, Joodse skrywer, wil sê: “Ek bid net wanneer ek in die moeilikheid is – maar ek is altyd in die moeilikheid, daarom bid ek altyd.”

Ons moeilikheid lê soms veel dieper as wat ons dink. Gebed is om dit te erken en te erken dat ons God nodig het.

Daarom begin Jakobus met: “As daar iemand onder julle is wat swaarkry, moet hy bid.”

Dit is nie duidelik van watter swaarkry hy praat nie. Maar hy sê: Moenie toelaat dat die swaarkry jou onderkry nie: Bid!

Ernie Pyle, ’n koerantman van lank gelede, se vrou was ’n alkoholis.

Op ’n keer toe dinge pikdonker in sy lewe was en hy sy “limit” bereik het, skryf hy vir ’n joernalis-vriend: “If you have any light, shine some of it in my direction. God knows I’ve run out of light.”

Soms bring die lewe jou by so ’n donker punt. In sulke tye, sê Jakobus, bid, want die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking (Jak. 5:16).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article