Wanneer die hede ondraaglik en die toekoms duister of bedreigend is, vra ons dikwels dat mense vir ons bid.
Ons soek iemand om vir ons by God in te tree. Hiermee erken ons ons eie beperktheid en ons afhanklikheid van mekaar. Ons afhanklikheid van God.
Dit wat in Oekraïne gebeur, asook die geweld en onreg wat selfs tot in die kleinste samelewingsverband voorkom, tesame met onsekerheid en angs, laat ons ook uitroep: Bid vir ons!
Wat moet ons bid vir ’n situasie wat so kompleks is dat ons dit nie verstaan nie en waaraan ons niks kan verander nie?
In Romeine 8:26-27 lees ons van die lyding wat gelowiges verduur, maar ook van goeie nuus: Daar is hoop vir die toekoms. Hierdie hoop is egter onduidelik. Hulle verstaan nie wat dit alles inhou nie. Dit is iets waarvoor gebid moet word.
Die probleem is dat hulle nie weet wat en hoe hulle behoort te bid nie. Die antwoord hierop is gerusstellend: Die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.
En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit volgens die wil van God vir die gelowiges.
Kom ons hou op met ons baie woorde en gaan sit sommer net woordeloos met al ons pyn, onsekerheid en angs by die voete van die Here en vra: “O Gees van God, bid vir ons . . .”