Op ’n keer kry Paulus die ouderlinge van die Efese-gemeente bymekaar en vertel dat hy op pad is na Jerusalem. Hy weet dat daar moeilike tye en erge vervolging op hom wag.
In Hand. 20:24 spreek hy sy diepste gevoelens uit oor dit wat vir hom voorlê: “Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie. As ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: Dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.”
Paulus het helder en duidelik geweet waartoe die Here hom roep en hoe hy inpas in God se plan: Om die evangelie van God se genade te verkondig, al sou dit hom ook sy lewe kos.
Wat is God se wil vir my lewe? Dit is hoe ons baie keer vra. Ek het ’n idee dat ons die punt mis. Ons vra die verkeerde vraag; as ’n mens die verkeerde vraag vra, kry jy gewoonlik nie die antwoord waarna jy soek nie.
Wanneer ons na Sy wil vir ons lewe vra, vra ons eintlik subtiel dat God moet inpas by ons planne. Die vraag behoort eerder te wees: Hoe pas ek in by God se plan; wat kan ek doen om God se plan vir die wêreld te laat werk?
Laat ons onthou dat God nie geroep is om in ons diens te staan nie. Ons is geroep om in God se diens te staan. God hoef nie by ons planne in te pas nie.
Ons is geroep om by Sy planne vir die wêreld in te pas.
Die oomblik wanneer ons dit begin doen, help ons om iets van die hemel op aarde ’n werklikheid te maak. Dan neem ons deel saam met God om die wêreld te verander en van die wêreld ’n beter plek te maak.

