Jare gelede was daar in die Louvre-kunsmuseum in Parys, Frankryk, ‘n skildery getiteld Skaakmat. Dit het die duiwel uitgebeeld wat smalend oor sy skaakteenstander, ‘n jong man, uittroon. Met die laaste skuif van die duiwel plaas hy sy teenstander in skaakmat.
Op ‘n dag besoek die Amerikaanse skaakmeester Paul Morphy die museum. Hy bly by dié skildery staan. Dan roep hy uit: “Dis ‘n leuen, dis ‘n leuen!”
Die kurator kom maan Morphy dat hy moet sagter, maar wil tog nuuskierig weet wat aangaan.
Morphy verduidelik: “Kyk, die spel is nie oor nie. Dis ‘n leuen, dis nie skaakmat nie: Die koning het nog een skuif oor.”
Die gebeure op Golgota as Jesus gekruisig word, lyk ook na skaakmat, Die bose het oorwin.
In die ganse geskiedenis is geen datum so donker soos die dag waaop Jesus op Golgota gekruisig is nie. Nog nooit het die mensdom treffender gedemonstreer waartoe hy in staat is nie. Die ergste wat die mensdom kan doen, is toe volbring.
In ‘n felle formulering sê die teoloog Wilhelm Korff “Moord op God”. Dit is ook die implikasie van die bekende Duitse Paaslied van Johannes Rist, “O, grote nood, God self is dood.”
Jesus kreet met ‘n hortende asemteug en gebarste lippe: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Eenkant staan mense en sê: “Ja, ander kon Hy red, maar Homself kan Hy nie red nie”.
Dit is verby, skaakmat, gaan maar huis toe. Die duiwel leun smalend oor die skouer van die mens, alles is verby.
Dit is egter alles ‘n leuen, want die Koning het nog ‘n skuif oor. Op Paassondag sou hierdie Koning opstaan.
Ons ken dit. Situasies waarin ons voel ons is in ‘n doodloopstraat.
Jou lewe is ‘n gemors. Jy soek. Klop. Roep. Huil. Lag. Raak kwaad. Jy voel leeg. Jy voel verlore.
Dit moet ons vandag duidelik hoor: Die spel is nie verby nie; die Koning het nog ‘n skuif.
Dit is Goeie Vrydag. Dit is Paassondag. Hy het die dood en hel oorwin.


