Illustrasie van lewende water vir geestelike rubriek.
Lewende water, waar stilte is. FOTO: Helena Barnard

“Sy (Maria) het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.” – Lukas 2:7

Sou dit destyds voorblaaie haal? Sou verslaggewers ‘n onderhoud met die ouerpaar oor die geboorte voer – ‘n ongehude moeder wat geboorte op ‘n ongeleë tyd in ‘n ongewone plek skenk?

In die Kersverhaal het nog altyd ‘n stuk ongemaklikheid gesit wat begin by die vraag van die wyse manne: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is?”

Dan kom dit: In Bethlehem in een van die geringstes van die stede, in ‘n stal omdat daar nie vir hom plek in ‘n herberg was nie… om voortvlugtige te wees op pad Egipte toe. Iets van hierdie ontuis wees, verwerp wees, spreek van sy geboorte af tot met die kruis, wanneer die skare skreeu: “Kruisig Hom.”

Die Koning van die heelal kom nie in ‘n paleis nie, maar in ‘n stal; nie op ‘n koningstroon nie, maar ‘n krip. Hierdie enkele vers vang die hart van God se verrassende genade vas: Hy kom naby, op maniere wat niemand verwag nie.

Hy kom in hierdie Adventstyd na ons in gestaltes en op plekke waar ons hom die minste verwag. ‘n Bufferplakker lui: “Put Christ back into Christmas”. Is daar plek vir die koning in my lewe?

Advent herinner ons om ruimte te maak – nie vir nog aktiwiteite, Kerspartytjies en inkopies nie, maar vir Christus.

Die wonderlike evangelie van die Kersverhaal is dat die Here die stal, die krip en ‘n moedige Maria en Josef gebruik; en dan lees ons van skaapwagters en die heerlikheid van die Here wat rondom hulle geskyn het. Die Here laat ongemaklike plekke van gedaante verwissel na ‘n plek waar sy heerlikheid openbaar word.

Mag elkeen sy heerlikheid in dié tyd ervaar.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article