Ken ons nog die afkorting DV? In Latyn is dit: “Deo Volente”; in ons spreektaal: “As die Here wil”. Ons hoor nou selde dié woorde.
Jakobus maan in Jak. 4:13-17 om nie so selfversekerd te wees en te sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.”
Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.”
Sommige meen die teks maan teen beplanning; dan moet ons dagboeke opskeur en nie beplan vir môre nie. Watter chaos sal dit nie wees nie. Ander sê Jakobus het niks teen beplanning nie en dit gaan om beplanning sonder om te onthou dat God kan ingryp; dat goed skeef kan loop.
Ons hou rekening met die onvoorsiene en beplan daarvoor, dit is waarom ons kort- en langtermynversekering het.
Beplan ons egter vir die noodlot, maak ons van God die element van onsekerheid en bedreiging en sukkel ons om te glo in sy troue sorg.
Om te begryp hoe Jakobus die wil van God sien, kyk na die breë konteks. Eintlik is Jakobus besig om die rykes en magtiges aan te spreek. Vol ywer het dié klomp hul sake beplan en net gedink hoeveel sakke geld hulle gaan maak sonder om aan die behoeftes van die mede- en armer gemeentelede te kyk. Hulle het net aan hul eie behoeftes gedink en daarvolgens beplan.
Jakobus waarsku hulle: Die wil van God in jóú lewe het nie net te make met sake wat jou aangaan nie. Dit het ook te make met hoe jy teenoor jou naaste optree en vir jou naaste sorg.

