Die natuur verander byna in ’n oogwink.
Nou die dag nog was ek verstom oor alles wat so mooi groen is.
Met die koms van die winter het alles dof en kaal geword. Selfs die geharde haakbos in ons omgewing het die tekens van doodsheid vertoon, met ’n digte laag stof wat soos ’n kombers daaroor hang.
Maar daar waar gister nog ’n stoflaag was, is nou ’n kombers van klein wit blommetjies.
Dit laat my verwonderd staan – verwonderd dat daar tog lewe kan wees, selfs waar ons net doodsheid verwag.
Hierdie wete maak my opgewonde.
Dit keer dat ek in moedeloosheid verval.
Wanneer ons na die lewe kyk, sien ons dikwels net die winter raak – die dor, stofbelaaide lewe.
Ons sien dit in ander se lewe, maar ook in ons eie.
Dit kom lê op ons soos ’n dik kombers van swartgalligheid of traak-my-nie-agtigheid.
Kan daar in hierdie omstandighede nog lewe wees? Kan daar weer iets uit hierdie doodsheid verrys?
Natuurlik kan daar.
God is immers die een wat die winter in lente verander.
Christus se opstanding is die waarborg hiervan.
Die antwoord op doodsheid is nie om harder te probeer nie, maar oorgawe in die hand van Hy wat nuutmaak.
“ . . .laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” – Romeine 12:2

