’n Franse mark word Saterdag (05/02) by Villa Avianto in Kwaggafontein, Bloemfontein, aangebied.
Dit word al sedert 2008 gereeld aangebied, en gaan van Februarie tot November maandeliks plaasvind.
Die rustige atmosfeer beklemtoon die betekenis van Villa Avianto se naam: Huis van die Hemel.
Dit bied ’n unieke Franse stemming met formele tuine wat naatloos met die omliggende omgewing saamsmelt.
Volgens Suretha van Heerden, mede-eienaar van Villa Avianto en organiseerder van die mark, gee dit mense die geleentheid om uit die gejaagde lewe te ontsnap en die mooi van die lewe te geniet.
Die mark word gekenmerk deur die Franse vlae en Eifeltorings, asook die reuk van varsgemaalde koffie en varsgebakte sjokolade croissants.
By die mark word daar gefokus op gehalteprodukte wat deur plaaslike en nasionale uitstallers en kunstenaars ontwikkel word.
“Skilderye, houtprodukte, vars kosse, kase, tuisgemaakte sepe, varsgebakte lekkernye, juwele en unieke klere- en dekorreekse is enkele van die produkte wat Saterdag hier gaan wees.”
Heuningkoeke en vars heuning van Villa Avianto se byeboerdery sal te koop wees, asook van sy vars verwerkte produkte, soos basiliepesto, tamatiepesto en appelblatjang.
Die plaaslike kunstenaar Ian Rautenbach sal Saterdag ontspanne agtergrondmusiek verskaf.
Die volgende mark word op 5 Maart aangebied, en daarna op 2 April en 7 Mei.
Bloemnuus, soos NoordkaapBulletin ook ’n gemeenskapskoerant van Sentraal24, is die mark se mediaborg vir die jaar.
- Belangstellendes kan Villa Avianto se Facebook-blad @villa_avianto.com volg vir meer inligting, of die webblad villa-avianto.co.za besoek.