Gemeenskapsorganisasies in die Namakwalandse dorp, Steinkopf, veg al van 2021 af vir meer polisiebeamptes en polisievoertuie vir die plaaslike polisiediens.
Gerold Engelbrecht, voorsitter van die Top 5-gemeenskapsorganisasie in Steinkopf, sê dis ’n skande om te sien dat die plaaslike polisiekantoor nie eens ordentlik op klagtes kan reageer nie.
Steinkopf het ongeveer 12 000 inwoners, en bestaan ook uit klein nedersettings soos Henkries en Goodhouse met ongeveer 400 inwoners, en ook die veeboergemeenskap wat bedien moet word.
Die SAPD Steinkopf is so sleg af met mannekrag dat daar slegs twee tot drie lede op ’n skof is.
Soms is hulle net twee aan diens, en dan moet die polisiekantoor gesluit word wanneer hulle ’n klagte gaan aanhoor.
Dit is met een gemerkte polisiebakkie wat die gemeenskap moet bedien, terwyl die ander een nou al baie lank gebreek staan.
Wanneer die SAPD ’n klagte in Goodhouse gaan ondersoek, is die dorp sonder polisiëring of voertuie wat ander klagtes kan ondersoek.
Verskeie vergaderings met die Namakwa-distrikskantoor in Springbok het nog net op dowe ore geval.
Die gebiedsbevelvoerder is al by verskeie vergaderings gevra om ten minste die Namakwa Openbare Orde Polisiëring of die Springbok K9-eenheid te ontplooi om die stasie by te staan.
Tot kinders by die skool word deur die pangabendes bedreig, en die plaaslike polisie kan nie 100% reageer nie, want hulle is slegs twee aan diens.
Baie kere bestaan die pangabende uit tien tot 30 lede.
Organisasies van die dorp het die LUR van veiligheid, vervoer en skakeling, so ook die polisie-unie Popcru, en die minister van polisie se kantoor, en selfs die adjunk- en president se kantoor vir hulp vir die plaaslike polisiekantoor genader.
’n Nuwe kaptein is na die kantoor gestuur, maar dit los steeds nie die probleem op van ’n tekort aan mannekrag of voertuie nie.
Baie kere moet gemeenskaplede wag totdat die polisiebakkie van die hof in Springbok kom nadat dit verhoorafwagtendes daarheen geneem het, voor enige hulp van die polisie verkry kan word.
Die volgende is om die Menseregtekommissie te nader, want ons voel ons reg tot veilige polisiëring word geskend.
Of die ander opsie – ons maak die polisiekantoor se hekke met dik kettings toe.
Só kan dit nie aangaan nie, want jy moet bakhand staan om gedien en beskerm te word deur die plaaslike polisiediens.
Die grootkoppe van die SAPD weet wat aangaan, want hulle het polisiebeamptes na ander polisiekantore verplaas, maar nooit die gapings gevul nie.




