Gestremdheidsmaand word jaarliks vanaf 3 November tot 3 Desember herdenk, met die Internasionale Dag vir Persone met Gestremdhede wat op laasgenoemde datum plaasvind.
’n Gestremdheid kan enigiemand oorkom, en ook binne enkele sekondes – veral as daar ’n traumaties gebeurtenis soos ’n motorongeluk plaasvind.
Dit bring baie emosionele trauma en seer wat verwerk moet word, wat nie maklik of positief gesien word nie.
Maar alle aspekte van gestremdheid is nie negatief nie. Baie mense het al gesê dat sonder ’n gestremdheid hulle nooit in hul lewe sou bereik het wat wel bereik is nie.
Die algemene mening is dat ’n gestremdheid baie negatief is. Dit is hoekom ons nie graag daaroor praat nie, of met iemand met ’n gestremdheid kommunikeer nie. Ons is bang daarvoor – ons weet nie hoe om die persoon te benader nie, en wat om te sê sonder om aanstoot te gee nie.
Gestremdheid is egter ’n neutrale konsep – nie negatief of positief nie. Dit is wel deel van die diversiteit van menswees.
Almal verskil, maar dit is geen rede om diskriminerend teen iemand op te tree nie. Dit is die diskriminasie van die samelewing teenoor persone met gestremdhede wat hulle wel strem.
Wat sê die wetgewing?
Die Witskrif oor die Regte van Persone met Gestremdhede sê: “Disability is imposed by society when a person with a physical, psychosocial, intellectual, neurological and/or sensory impairment is denied access to full participation in all aspects of life, and when society fails to uphold the rights and specific needs of individuals with impairments.”
Die persoon het wel ’n verlies, maar dit is die samelewing en ons as mense wat gestremdheid skep.
Geen persoon mag op onbillike wyse teen enige persoon diskrimineer op grond van gestremdheid nie, insluitend:
- om enige ondersteunende of bemagtigende fasiliteit wat nodig is vir hul funksionering in die samelewing te ontken of te verwyder van enige persoon wat ‘n gestremdheid het;
- oortreding van die praktykkode of regulasies van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde wat omgewingstoeganklikheid beheer; of
- versuim om struikelblokke uit te skakel wat persone met gestremdhede onbillik beperk om gelyke geleenthede te geniet, of versuim om stappe te neem om die behoeftes van sodanige persone redelik te akkommodeer.
Wie van ons het nie ’n verlies van een of ander aard nie? Ja, nie almal tot só ’n mate dat ons daardeur gestremd gelaat word nie, maar nie een van ons is perfek nie. Die feit dat ons almal van mekaar verskil, is deel van wat ons mense maak, van ons diversiteit.
Eers as ons dit kan verstaan, en persone met gestremdhede as mense behandel, sal ons inklusief kan wees.

